Nuus 07:00
BULLETIN 23 Julie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika en Mali het tans die laagste steun vir demokrasie in Afrika
# Minister Hlabisa vra mense moet betrokke raak om munisipaliteite te verbeter
# En Kamala Harris prys president Biden se nalatenskap
# Ondersteuning vir demokrasie het in Afrika met sewe persentasiepunte gedaal. In Suid-Afrika het dit met 29 punte gedaal en in Mali met 23 punte. Dit is volgens ‘n nuwe Afrobarometer-peiling. Die peiling toon minder as 37-persent Afrikane glo demokrasie werk in hulle lande. Sowat 53-persent is bereid om ʼn militêre oorname te aanvaar indien gekose leiers hulle mag misbruik. Afrobarometer sê alhoewel talle lande, insluitend Suid-Afrika, demokraties en vry bly, kan die dalende openbare steun vir die stelsel probleme veroorsaak as dit nie aangespreek word nie.
# Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, sê die regering van nasionale eenheid wil gemeenskaplike grond vind om plaaslike munisipaliteite te verbeter. Hlabisa verwys na swak dienslewering weens finansiële onstabiliteit, skuld en ontoereikende infrastruktuur en hulpbronne wat dienslewering raak. Hy benadruk die regering sal in gesprek tree met onderpresterende koalisie- en nie-koalisiemunisipaliteite om hierdie kwessies aan te spreek:
# RISE Mzansi het onderneem om Suid-Afrikaners met eerlikheid en integriteit in die Parlement te dien. Die party beklemtoon sy erns en samewerking met ander politieke partye tot die voordeel van Suid-Afrikaners, ongeag veldtogverbintenisse. Die party versoek nouer samewerking tussen die uitvoerende gesag en die Parlement, en eis aanspreeklikheid van ministers en adjunkministers. Die party onderneem in ‘n verklaring om optrede van die uitvoerende gesag met ‘n arendsoog dop te hou, om foute van die verlede te vermy en te fokus op ‘n veilige, voorspoedige, gelyke en verenigde Suid-Afrika.
# Section27 nader vandag die Hooggeregshof in Johannesburg om te versoek dat die Cancer Alliance se saak teen die Gautengse Gesondheidsdepartement uitgestel word. Die aansoek handel oor die departement se versuim om die 784-miljoen-rand te gebruik wat die Gautengse Tesourie aan hom toegeken het om bestralings- en ander sjirurgiese agterstande in die provinsie te hanteer. Pearl Nicodemus van Section27 sê die departement, die LUR vir Gesondheid en die twee hospitale wat bestraling- en kankerdienste lewer, het Vrydag eers hulle beëdigde verklarings ingedien:
# Amerika se visepresident, Kamala Harris, sê dit wat president Joe Biden die afgelope drie jaar bereik het, is ongekend in moderne geskiedenis. Sy het gister by die Withuis by ʼn geleentheid vir kollege-kampioenskapspanne gepraat. Dit was haar eerste openbare verskyning sedert Biden sy herverkiesingsveldtog beëindig en haar ondersteun het. Meer as eenduisend Demokratiese afgevaardigdes ondersteun haar. Harris sê Biden het in een termyn meer gedoen as ander presidente in twee:
# Krieket: Die beheerliggame van Amerika en Chili het 12-maande om hulle nie-voldoening aan die Internasionale Krieketraad se lidmaatskapsreëls reg te stel. Die wêreldliggaam het hulle gewaarsku omdat hulle nie pasgemaakte, gedetailleerde bestuurs- en administratiewe strukture en -stelsels het nie. Die IKR sê hy behou hom die reg voor om ‘n lid te skors of uit te skop vir volgehoue nie-voldoening. Die besluit is geneem op die jaarkonferensie in Colombië, waar die IKR besin het hoe hy kan munt slaan wanneer T20-krieket in 2028 na die Olimpiese Spele terugkeer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-24-sent teen die dollar, 19-rand-87-sent teen die euro en 23-rand-59-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-357-dollar-27-sent. Die prys van goud is twee-duisend-401-dollar-76-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-51-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….