Nuus 07:00
BULLETIN 19 September 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa is bereid om na werkbare voorstelle oor gesondheidsversekering te luister
# Die NVG sê Deveney Nel se vermeende moordenaar sal nie as ‘n volwassene verhoor word nie
# En krieket: Pakistan se vroue maak die T20-reeks gelykop
# President Cyril Ramaphosa sê hy is bereid om na werkbare voorstelle oor die Nasionale Gesondheidsversekering te luister. Hy het Dinsdag met Business Unity South Africa se leierskap vergader om die omstrede NGV-wet te bespreek. Die organisasie sê die wetgewing is in sy huidige vorm onwerkbaar en skadelik vir die land se gesondheidstelsel. Ramaphosa het gister by die Afrika-lugvaart-en-verdedigingskou by die Waterkloof Lugmagbasis in Centurion gepraat en sê sy doel is om billike en gehalte-gesondheidsorg te bied:
# Die Nasionale Tesourie wil privaat-sektorbeleggings in infrastruktuur lok om te verhoed dat pensioenfondse verplig word om ontwikkeling te finansier. Die adjunkminister van Finansies, David Masondo, het voorgestel dat pensioenfondswetgewing gewysig word om belegging aan te moedig. Masondo het gewaarsku ‘n voorskriftelike beleid kan kapitaalmarkte benadeel en beleggersvertroue verminder, wat pensioenopbrengste en doeltreffendheid kan beïnvloed.
# Die Nasionale Vervolgingsgesag sê die 17-jarige seun wat verbind word met die moord op die 16-jarige Devaney Nel in Caledon, sal nie as ‘n volwassene verhoor word nie. Die graad 10-leerder se liggaam is tydens ʼn sportgeleentheid in ʼn toegesluite pakkamer by Hoërskool Overberg gevind. Die burgerlike organisasie, Kaapse Forum, sê die Kinderwet moet verander, omdat dié wrede moord die optrede van ʼn volwassene is. Die NVG-woordvoerder, Eric Ntabazalila, sê hulle moet die wet gehoorsaam:
# Dertien mense in die Russiese Tver-streek is beseer na ‘n groot Oekraïnse hommeltuig-aanval ‘n brand laat ontstaan het. Onbevestigde beeldmateriaal toon ‘n geweldige ontploffing in die dorp. Opdrag vir ‘n gedeeltelike ontruiming is gegee na die aanval gister in die vroeë oggendure. Die streekgoewerneur het inwoners later aangemoedig om terug te keer en sê infrastruktuur in die dorp werk weer soos normaal. AFP en Reuters haal Oekraïnse bronne aan wat sê ‘n ammunisie-opslagplek is getref.
# Krieket: Pakistan se vrouespan het Suid-Afrika met 13 lopies verslaan in die tweede T20-wedstryd by die Multan-krieketstadion om die reeks van drie met een-elk gelykop te maak. Kaptein Fatima Sana en Nida Dar se vennootskap van 60 lopies het bygedra tot die tuisspan se telling van 181 vir vier in hul 20 boulbeurte. In reaksie daarop het Sune Luus ʼn onoorwonne 53 van 29 balle behaal, maar dit was te min vir die besoekers en hulle plaas 168 vir vier op die telbord. Die bepalende wedstryd word Vrydag op dieselfde stadion gespeel.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-56-sent teen die dollar, 19-rand-49-sent teen die euro en 23-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-975-dollar-31-sent. Die prys van goud is twee-duisend-559-dollar-74-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 73-dollar-26-sent per vat.
# En ten slotte : Die Nasionale Lotery se agentskap, Ithuba, doen ‘n beroep op die wenner van die 107-miljoen-rand PowerBall boerpot om hul prys op te eis. Die wenkaartjie, wat via FNB se bankplatform gekoop is vir die trekking wat verlede Vrydag gehou is, moet nog opgeëis word. Volgens die uitvoerende hoof, Charmaine Mabuza, gaan die wenner se lewe verander. Sy het mense aangeraai om hul bankkennisgewings na te gaan en die kantoor te besoek om hul prys op te eis. Ithuba bied ook finansiële raad en traumaberading vir groot winste aan.