Nuus 07:00
BULLETIN 26 Junie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Lamola sê Suid-Afrika se nie-belyning moet nie met neutraliteit verwar word nie
# Die Parlement sê buitelandse gevangenes dra by tot die oorbevolking van gevangenisse
# En krieket: Die Protea-vrouespan staan steeds ’n kans om die T20-Wêreldbeker-halfeindronde te haal
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, sê Suid-Afrika volg ‘n onafhanklike buitelandse beleid wat stewig gevestig is in die beginsel van nie-belyning, en sal nie van buite voorgeskryf word nie. Hy het gereageer op opmerkings van die Amerikaanse ambassadeur in Pretoria, Leo Brent Bozell, wat gesê het adjunkpresident Paul Mashatile se besoek aan China en Iran se adjunkminister van Buitelandse Sake, Saeed Khatibzadeh, se besoek aan Pretoria ondermyn Suid-Afrika se standpunt van nie-belyning. Die departement se woordvoerder, Chrispin Phiri, sê die minister het beklemtoon dat nie-belyning nie met neutraliteit verwar moet word nie:
# Die Parlementêre Portefeuljekomitee oor Korrektiewe Dienste sê die oorbevolking van korrektiewe instellings bly ‘n ernstige uitdaging, met buitelandse gevangenes wat sowat 12-persent van gevonnisde gevangenes uitmaak. Die komiteevoorsitter, Anthea Ramolobeng, het aan die media gesê vertragings in deportasieprosesse plaas druk op fasiliteite en hulpbronne wat reeds onder druk is. Ramolobeng het ‘n gevangene-oordragooreenkoms tussen Suid-Afrika en Botswana verwelkom, en vra vir soortgelyke ooreenkomste met ander lande:
# Gauteng se polisiekommissaris, Tommy Mthombeni, waarsku dat Suid-Afrikaners wat onwettige immigrante huisves of in diens neem, boetes van tot tien-duisend-rand en moontlik strafregtelike gevolge kan verwag. Dit volg terwyl wetstoepassingsagentskappe hul voorbereiding verskerp in aanloop tot Dinsdag se landwye betogings teen onwettige immigrante. Mthombeni sê planne is gereed om wet en orde te handhaaf en openbare veiligheid tydens die betogings te verseker. Hy sê owerhede sal die verwikkelinge op die grond en uit die lug dophou.
# Die Wes-Kaapse ekonomie het met 0,6-persent tussen Januarie en Maart gegroei, wat die nasionale gemiddeld van 0,5-persent oortref. Die groei word gedryf deur ‘n sterk vertoning in sektore soos finansies, landbou en toerisme, met verhoogde uitvoere van appels en druiwe en ‘n toename in internasionale aankomste in Kaapstad. Die LUR vir Landbou, Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme, Ivan Meyer, sê die provinsie toon steeds veerkragtigheid ten spyte van globale en plaaslike ekonomiese druk:
# Die uittredende Britse eerste minister Keir Starmer sê hy sal ʼn ordelike oordrag van mag verseker. Hy het Maandag sy bedanking aangekondig en Andy Burnham sal hom waarskynlik as eerste minister en leier van die Arbeidersparty vervang. Burnham is tot dusver die enigste kandidaat en indien niemand hom uitdaag nie, kan hy reeds teen 17 Julie eerste minister word. Starmer sê hy het staatsamptenare toestemming gegee om met moontlike leierskapskandidate van die Arbeidersparty te vergader om hulle voor te berei:
# Krieket: Die Suid-Afrikaners het die Nederlanders met 88 lopies afgeransel in die vroue se T20-Wêreldbeker in Bristol om hul hoop om die halfeindronde te haal, lewend te hou. Tazmin Brits het ʼn onoorwonne 114 bygedra tot die Protea-vroue se 208 vir een. Daarna het Ayabonga Khaka drie paaltjies platgetrek en Nederland is tot 120 vir agt beperk. Om die halfeindronde te haal, moet Suid-Afrika Bangladesj in hul laaste wedstryd klop en hoop Indië verloor teen Australië. Anders sal dit van ʼn netto lopie-koers afhang.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-50-sent teen die dollar, 18-rand-75-sent teen die euro en 21-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-229-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-21-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-96-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….