Nuus 07:00
BULLETIN 18 September 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Twee voormalige SA Toerisme-raadslede wil minister De Lille dagvaar
# Minister Creecy stel ‘n jaareind-sperdatum vir die Spoornetwerk
# En Statebondspele: Glasgow is die gasheer in 2026
# Die voormalige Suid-Afrikaanse Toerismeraad-voorsitter, Makhosazana Khanyile, en gewese ondervoorsitter, Lizelle Haskins, het hul prokureurs opdrag gegee om ‘n regsgeding teen die minister van Toerisme, Patricia de Lille, aanhangig te maak. Die minister het hulle in die openbaar beskuldig dat hulle tussen Maart en September vanjaar uitspattige raadsvergaderings gehou het wat byna ʼn miljoen-rand gekos het. Hulle het verlede week bedank nadat De Lille hulle uit hul leierskapsposisies op die raad verwyder het. Khanyile en Haskins sê in ʼn gesamentlike verklaring die minister se bewering dat die vergaderings uitspattig was, is vals en lasterlik.
# Giwusa het bewerings verwerp oor die verhoging van die nasionale minimum loon wat werkskepping en werksekerheid sal benadeel. Die vakbond voer aan plaaslike en internasionale navorsing toon loonverhogings kan produktiwiteit verhoog, werknemers-omset verminder en ekonomiese groei stimuleer deur huishoudelike verbruik te verhoog. Giwusa se president, Mametlwe Sebei, doen ‘n beroep vir ‘n leefbare loon van 15-duisend-rand, en verklaar billike lone help om armoede en inkomste-ongelykheid te verminder, terwyl dit ook ondernemings bevoordeel:
# Die minister van Vervoer, Barbara Creecy, het ‘n jaareind-sperdatum ingestel vir die vrystelling van ‘n finale Spoornetwerk-verklaring om privaat operateurs te lok. Creecy het tydens die Suider-Afrikaanse Federasie van Staal- en Ingenieursbedrywe se konferensie gepraat en die regering se poging vir deelname van die privaat sektor beklemtoon, om spoorvolumes, hawedoeltreffendheid en ekonomiese groei te bevorder. Sy het die ingewikkelde balanseringstegniek beklemtoon om die tariewe aantreklik te hou vir derde partye en om aan Transnet se inkomstebehoeftes te voldoen.
# Die EFF veroordeel die Departement van Gesondheid in Gauteng se onregmatige besteding van 25-miljard-rand oor die afgelope drie jaar. Volgens die party sluit die kwessies in onbehoorlike besteding aan sekerheidstenders, hoё uitgawes vir mediese nalatigheid en versuim om belangrike opknapping van hospitale te voltooi. Woordvoerder Dumisani Baleni vra vir dringende optrede om aandag te gee aan korrupsie en wanbestuur wat die provinsie se gesondheidskrisis vererger:
# ʼn Amerikaanse hof het die gewese Britse sosiale vlinder, Ghislaine Maxwell, se appèl teen haar skuldigbevinding aan sekshandel verwerp. Die 62-jarige Maxwell is in Desember 2021 daaraan skuldig bevind dat sy die omstrede finansier, Jeffery Epstein, gehelp het om tienermeisies seksueel te misbruik. Sy is in Junie 2022 tot 20 jaar tronkstraf gevonnis. Drie regters het haar vonnis as redelik beskryf en haar bewerings dat sy nie ʼn regverdige verhoor gehad het nie, verwerp. Haar regspan sê hulle gaan die uitspraak in die Hooggeregshof betwis.
# Statebondspele: Glasgow sal in 2026 ʼn afgeskaalde weergawe van die Statebondspele aanbied nadat hy die nodige befondsing van die Skotse regering ontvang het. Die Australiese staat, Victoria, sou oorspronklik die sportgeleentheid aanbied, maar het weens stygende koste as gasheer onttrek. Die Skotse minister van Gesondheid en Sport, Neil Gray, sê die 2026 Spele sal afgeskaal word met minder plekke waar sport-items plaasvind. Die aantal sportsoorte sal ook van 18 tot sowat tien verminder word:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-58-sent teen die dollar, 19-rand-56-sent teen die euro en 23-rand-14-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-201-dollar-84-sent. Die prys van goud is twee-duisend-570-dollar-88-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 73-dollar-35-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….