Nuus 07:00
BULLETIN 16 Julie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê hy sal die lekgotla-besluite Donderdag tydens die opening van die Parlement uiteensit
# Minister Godongwana sê die bestaande fiskale raamwerk is grootliks deur die nuwe kabinet aanvaar
# En Hamas sê Israel se jongste aanval in Gaza is ‘n uitbreiding van volksmoord
# President Cyril Ramaphosa het die onlangse kabinet-lekgotla ‘n sukses verklaar. Die byeenkoms, bygewoon deur 32 ministers, 43 adjunkministers en direkteurs-generaal van departemente, het die regering van nasionale eenheid se verklaring van voorneme uiteengesit as die rigtinggewende dokument vir die sewende Parlement. Die president sê hy sal die uitkoms van die lekgotla Donderdag uiteensit in sy toespraak by die opening van die Parlement tydens ‘n gesamentlike sitting, wat saamval met Internasionale Nelson Mandeladag:
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sê die land se nuwe koalisiekabinet het die regering se bestaande fiskale raamwerk grootliks aanvaar. Die eerste kabinet-lekgotla onder die regering van nasionale eenheid is die naweek in Pretoria gehou. Die Nasionale Tesourie se mikpunt is om staatskuld in die 2025/2026-boekjaar op 75,3-persent van die bruto binnelandse produk te hou. Godongwana sê in ‘n onderhoud met Bloomberg, hoewel die fiskale raamwerk ondersteun word, kan knelpunte ontstaan wanneer begrotingstoekennings gemaak word.
# Die DA eis ‘n volledige ondersoek na bewerings oor ‘n sindikaat vir die huur van moordenaars in die Johannesburg Metro-polisiedepartement. Dit volg na die teregstellingstylmoord op ‘n senior ondersoeker Benedict Sithole, wat verbind word met die beweerde misdaadoperasie. Na wat berig word verskaf lede van die JMPD wapens, waaronder aanvalsgewere, aan misdadigers vir transito-rooftogte. Solomon Maila van die DA moedig JMPD-beamptes aan om die wet te gehoorsaam en nie self gewelddadige misdade te pleeg nie:
# Die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty in die Wes-Kaap is bly die provinsiale regering het ʼn ramptoestand afgekondig na die stormagtige weerstoestande. Swaar reën het oorstromings veroorsaak en 158-duisend mense is geraak terwyl 47-duisend strukture beskadig is. Die SAKP vra alle vorms van ramptoelaes moet verantwoordelik en gelyk gedeel word. Hy sê herstelmaatreëls moet vinnig ingestel word sodat lewens kan voortgaan en die ekonomie weer aan die gang kan kom.
# Hamas het Israel se aanval op ʼn skool waar ontheemde mense in sentraal-Gaza gehuisves word, veroordeel en sê dis ʼn voortsetting van die volksmoord teen Palestyne. Minstens 22 Palestyne is dood en 100 is gewond. Die Israelse weermag sê Hamas het die skool as wegkruipplek en operasionele infrastruktuur gebruik vanwaar aanvalle op sy soldate beplan en uitgevoer is. Dis Israel se vyfde aanval binne nege dae op of naby skole wat as skuiling gebruik word.
# Krieket: Australië se toetskaptein Pat Cummins is uitgelaat uit die witbaltoer van Engeland en Skotland om te rus, en die span sal gelei word deur Mitchell Marsh. Mitchell Starc en Glenn Maxwell sal die T20’s misloop en net in die eendagwedstryde speel. Cooper Connolly maak sy T20-debuut. Australië speel eers drie T20’s teen Skotland in Edinburgh, en dan drie T20’s teen Engeland, gevolg deur vyf eendagwedstryde. Die Baggy Greens verwelkom van November af Indië vir ‘n reeks van vyf toetse.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-19-sent teen die dollar, 19-rand-82-sent teen die euro en 23-rand-60-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-625-dollar-40-sent. Die prys van goud is twee-duisend-429-dollar-34-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 84-dollar-65-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….