Nuus 07:00
BULLETIN 12 Julie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Lamola sê Suid-Afrika se onverbonde beleid sal nie verander nie
# ‘n Peiling toon Biden en Trump sal gelykop eindig indien die verkiesing vandag sou plaasvind
# En krieket: Krieket SA word gedagvaar oor sy hantering van die David Teeger-aangeleentheid
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, sê Suid-Afrika se onverbonde beleid is heilig, selfs onder ‘n regering van nasionale eenheid. Hy het gister by ʼn simposium gepraat wat die Suid-Afrikaanse Instituut vir Internasionale Aangeleenthede aangebied het. Lamola sê die veranderende internasionale wêreldorde maak die versterking van die onverbonde beweging noodsaaklik. Hy voeg by Suid-Afrika met sy unieke beleid van aktiewe onverbondenheid is nie reaktief nie, maar proaktief in sy soeke na vrede:
# Die multi-nasionale myngroep Sibanye-Stillwater het die jongste slagoffer geword van ‘n globale kuberaanval op sy IT-stelsel. Volgens Moneyweb het die maatskappy onmiddellik beperkingsmaatreëls ingestel toe die voorval ontdek is. Die groep sê met werksaamhede op vyf vastelande het hy proaktief sy IT-stelsels geïsoleer en sy data beveilig. Die maatskappy sê hy is toegewy aan volle regstelling en het die voorval vrywillig by reguleerders aangemeld.
# Die taxiraad Santaco in Gauteng het sy toewyding aan padveiligheid bevestig na die tragiese ongeluk in Carletonville. Twaalf leerders van die Rocklands Primary School en Laerskool Blyvooruitsig het Woensdag hulle lewens verloor, saam met dié van die bestuurder van die voertuig. Die sekretaris van Santaco, Graham Fritz, vra strenger toepassing van padveiligheidsregulasies om oorbelading by skoolvervoer te voorkom. Fritz moedig ouers aan om waaksaam te bly om hulle kinders se veilige vervoer te verseker:
# Die ANC in die Wes-Kaap doen ‘n beroep op premier Alan Winde om ‘n ramptoestand te verklaar na swaar reën, sneeu en stormsterk wind. Die gure weer van Sondag af het aansienlike skade aangerig aan huise, paaie en infrastruktuur. Khalid Sayed van die ANC glo die afkondiging van ‘n ramptoestand sal die provinsie in staat stel om die nodige fondse te kry om te herbou en te herstel:
# ʼn Nuwe peiling toon president Joe Biden van Amerika en oudpresident Donald Trump is byna gelyk indien ʼn verkiesing vandag gehou sou word met Biden op 46-persent en Trump op 47-persent. Die peiling deur Ipsos, ABC News en die Washington Post, het twee-duisend-431 volwassenes betrek. Hiervan was 32-persent Demokrate, 29-persent Republikeine en 27-persent was onafhanklikes. Die peiling toon ook as visepresident Kamala Harris Biden as Demokratiese kandidaat sou vervang, sou 49-persent kiesers Harris en 46-persent vir Trump ondersteun.
# Krieket: Die nieregeringsorganisasie wat menseregte beskerm, Citizens for Integrity, dagvaar Krieket Suid-Afrika. Dit hou verband met KSA se besluit in Januarie om in aanloop tot die Wêreldbeker David Teeger van die kapteinskap van Suid-Afrika se Onder 19-span te onthef. Die Joodse speler het omstredenheid veroorsaak met sy opmerkings oor Israel se konflik in Gaza. Die organisasie sê in hofdokumente KSA het irrasioneel en onregmatig opgetree en sy besluit het Teeger in die verleentheid gestel, verneder en sy regte geskend.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-99-sent teen die dollar, 19-rand-55-sent teen die euro en 23-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 56-duisend-997-dollar-8-sent. Die prys van goud is twee-duisend-407-dollar-77-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 85-dollar-65-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….