Nuus 07:00
BULLETIN 10 Julie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Judges Matter sê Hlophe se verkiesing ondermyn die Regterlike Dienskommissie se geloofwaardigheid
# Die reënvoorspelling vir die Wes-Kaap word opgegradeer na ‘n vlak 8-waarskuwing
# En krieket: Indië klop die Protea-vroue in die derde T20 om die reeks gelykop te maak
# Judges Matter het die MK-partylid en omstrede gewese Wes-Kaapse regterpresident, John Hlophe, se verkiesing tot die Regterlike Dienskommissie veroordeel. Hy is een van ses lede uit vyf politieke partye wat op die kommissie sal dien. Dieselfde liggaam het hom vroeër aan growwe wangedrag skuldig bevind en in ‘n staat van beskuldiging geplaas. Judges Matter sê Hlophe se verkiesing ondermyn die geloofwaardigheid van die kommissie en die integriteit van die regbank.
# Die vakbondfederasie, Saftu, beskuldig die regering daarvan dat hy kwesbare gemeenskappe tydens natuurrampe verwaarloos en wys op swak infrastruktuur in informele nedersettings. Die federasie kritiseer die regering se versuim om te beplan en hulpbronne toe te wys, en wys op die ongelykhede met hulpverlening aan gegoede voorstede en verarmde townships. ‘n Woordvoerder van Saftu, Mogoshadi Maserumule, eis daadwerklike optrede om stewige infrastruktuur op te rig en om behuising te verskaf om gemeenskappe teen toekomstige rampe te beskerm:
# Burgerlike samelewings-organisasies en belanghebbers uit agt Afrika-lande is in Boksburg byeen om die voorkoming van geslagsgeweld te bespreek. Die vergadering volg nadat die Verenigde Nasies vrouemoord verklaar het tot ‘n menseregtekrisis, met een uit elke drie vroue en kinders wat ly onder geweld. Die VN se streekskoördineerder Nelson Muffuh beklemtoon die behoefte aan gemeenskapsgesprekke om bewustheid te verhoog oor die verwoestende gevolge van vrouemoord, en sê elke voorkombare sterfte is ‘n tragedie. Hy vra ook verbeterde aanmeldprosedures om slagoffers te beskerm.
# Die Wes-Kaapse regering is op hoë gereedheid nadat die Suid-Afrikaanse Weerdiens reënvoorspellings opgegradeer het tot ‘n vlak agt-waarskuwing vir Kaapstad, Drakenstein en Stellenbosch vandag. Verwagte reënval van 40 tot 60 millimeter, wat moontlik 100 millimeter in bergagtige gebiede kan bereik, laat kommer ontstaan oor vloede, modderstortings en rotsstortings. Die woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut, Craig Lambinon, sê mense wat van ventilators afhanklik is, soek skuiling en laaigeriewe by hul stasie, nadat Struisbaai weens gure weer afgesny is:
# ʼn Hof in Moskou het ʼn lasbrief uitgereik vir die inhegtenisneming van Yulia Navalnaya, vrou van wyle Alexey Navalny, ʼn Russiese opposisie-politikus. Sy word beskuldig dat sy lid is van ʼn ekstremistiese organisasie. Die 47-jarige Navalnaya woon tans buite Rusland, maar sal in hegtenis geneem word indien sy terugkeer. Sy het die lasbrief gekritiseer en sê president Vladimir Putin is ʼn moordenaar en oorlogsmisdadiger en hoort in die tronk. Navalnaya het beloof om haar man se werk voort te sit.
# Krieket: Indië het Suid-Afrika in die derde en laaste T20-wedstryd in Chennai gemaklik met 10 paaltjies gewen om die reeks op een elk te laat eindig. Die Indiese naatbouler, Pooja Vastrakar, het vier paaltjies platgetrek en die Proteas was op 84 almal uit. In reaksie daarop het Smriti Mandhana ‘n onoorwonne 54 aangeteken en Indië het die teiken in 10 boulbeurte en vyf balle bereik. Dit is beter as hulle vorige beste oorwinning oor Suid-Afrika in 2021. Die Proteas fokus nou op die T20-wêreldbeker wat in Oktober in Bangladesj plaasvind.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-14-sent teen die dollar, 19-rand-63-sent teen die euro en 23-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-766-dollar-80-sent. Die prys van goud is twee-duisend-367-dollar-78-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 84-dollar-58-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….