Nuus 07:00
BULLETIN 1 Augustus 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa stel Dunstan Mlambo aan as adjunkhoofregter
# BOSA sê die repokoersverlaging bring broodnodige verligting vir sukkelende burgers
# En Tshwane se nuwe skoonmaakheffing word onwettig en ongeldig verklaar
# President Cyril Ramaphosa het Gauteng se regterpresident, Dunstan Mlambo, as adjunkhoofregter aangestel. Die amp is sedert September 2024 vakant toe Mandisa Maya as hoof van die regbank oorgeneem het. Die Regterlike Dienskommissie het Mlambo verlede maand vir die pos aanbeveel nadat onderhoude met drie regters gevoer is. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê die president het met die aanstelling die Regterlike Dienskommissie en politieke partye in die Nasionale Vergadering se menings in ag geneem:
# Build One South Africa verwelkom die besluit van die Suid-Afrikaanse Reserwebank se Monetêre Beleidskomitee om die terugkoopkoers met 25 basispunte tot sewe-persent te verlaag. Die prima uitleenkoers is tot 10,5-persent verlaag. BOSA se woordvoerder, Roger Solomons, sê dit bring verligting vir miljoene landsburgers wat gebuk gaan onder die hoë koste van skuld, stygende kostes, salarisse wat dieselfde bly en buitensporige lewenskoste:
Die huisleningsonderneming BetterBond verwelkom ook die Reserwebank se besluit om die terugkoopkoers te verlaag, wat die prima uitleenkoers op 10,5-persent te staan bring, die laagste sedert 2022. Die nasionale hoof van verkope, Bradd Bendall, sê die skuif bied verligting vir huiseienaars. Hy het aangekondig verbandaansoeke het in die afgelope jaar met 7,4-persent gestyg en 13,6-persent van die aansoeke vir huislenings is toegestaan:
# Die Hooggeregshof in Pretoria het die Stad Tshwane se nuwe skoonmaakheffing onregmatig en ongeldig verklaar en ter syde gestel. Die maandelikse heffing van 194-rand-37-sent was gemik op omheinde gemeenskappe en winkelsentrums wat nie bestaande skoonmaakrekeninge het nie, maar privaat skoonmaakdienste gebruik. AfriForum het die hof genader om die heffing, wat byna 260-duisend huishoudings en sakeondernemings in Tshwane sou raak, om te keer. Die hof het ook ‘n kostebevel aan AfriForum toegestaan.
# Die Verenigde Nasies se hoëkommissaris vir Menseregte het Angolese owerhede gevra om ʼn deeglike en onafhanklike ondersoek in te stel na sterftes en berigte van buitengewone geweld tydens betogings oor brandstofpryse. Minstens 22 mense is dood, 200 beseer en meer as ʼn duisend word aangehou ná betogings oor ʼn styging in brandstofpryse. Die VN sê volgens onbevestigde beeldmateriaal het veiligheidsmagte skerppuntkoeëls en traangas gebruik om betogers uiteen te jaag wat neerkom op onnodige en buitensporige geweld.
# Rugby: Cameron Dawson dra die nommer een-trui wanneer hy vanaand in Bloemfontein in sy vyftigste wedstryd vir die Cheetahs uitdraf. Die Vrystaters speel in die Curriebeker teen die Pumas. Vernon Paulo begin op haker en Pierre Raymond Uys kom in op slot. Sasko Ndlovu maak sy buiging op linkerflank. In die agterlyn begin Smiley Nel op skrumskakel en Tiaan Swanepoel op losskakel. Carel-Jan Coetzee is die binne-senter en James Verity-Amm die heelagter. Cohen Jasper beweeg na die linkervleuel. Die afskop is sewe-uur
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-22-sent teen die dollar, 20-rand-79-sent teen die euro en 24-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 115-duisend-202-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-287-dollar-38-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 71-dollar-47-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….