Nuus 07:00
BULLETIN 6 Julie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die OVK vra die Kieshof om voort te gaan met die MK-party se saak ondanks terugtrekking
# Sunak sê hy het bedank as Tory-leier want hy het kiesers se woede en teleurstelling gehoor
# En, krieket: Die Protea-vroue klop Indië met 12 lopies in die eerste T20
# Die Verkiesingskommissie het die Kieshof gevra om voort te gaan met die MK-party se hofsaak teen die uitkoms van die verkiesing, al het die party die aanklagte teruggetrek. Die OVK sê MK het ernstige bewerings gemaak, wat insluit opsetlike stem-peutering, en dit is noodsaaklik dat die saak aangehoor word. Die kommissie vra die hof om ten minste te bevestig of die aantygings kwaadwillig en sonder ‘n grondige rede gemaak is, en wys daarop MK het ook nie aangebied om die verkwiste regskoste te betaal nie.
# COSATU onderskryf die staking deur drie-duisend werkers van NUMSA by Ford SA wat verset aanteken teen die maatskappy se weiering om winste te deel. NUMSA voer aan Ford se aansienlike winste moet winsdeling-bonusse vir die werkers insluit. In weerwil van Ford se poging om die staking deur ‘n interdik van die Arbeidshof te verbied, sê nasionale woordvoerder Zanele Sabela COSATU steun NUMSA se versoek vir billike vergoeding:
# Ster-Kinekor gaan sy rolprentteaters landwyd diversifiseer deur e-speletjies bekend te stel en e-leerprogramme te bevorder. Die uitvoerende hoof, Mark Sardi, het aan eNCA gesê planne sluit ook in om rolprente van die 80’s tot die 2000’s te vertoon om die gehoor te herinner aan die ‘bioskoop’-gevoel van dekades gelede. Hy sê hierdie planne is daarop gemik om die rolprentervaring te verbeter en die sukkelende bedryf te help herstel na die uitwerking van Covid-19:
# Die gewese Britse eerste minister, Rishi Sunak, sê hy het besluit om as leier van die Konserwatiewe Party te bedank want hy het die kiesers se woede en teleurstelling gehoor. Die Tories het ‘n reuse-verkiesingsnederlaag gely teen die Arbeidersparty, wat nou oorneem na 14 jaar van Konserwatiewe regering. Die leier van die Arbeiders, Keir Starmer, is nou die nuwe inwoner van Downingstraat 10 nadat koning Charles hom gevra het om ‘n nuwe regering te vorm. Sunak sal as partyleier aanbly totdat die leierskapstryd van die Tories begin.
# En, krieket: Die Protea-vroue het ‘n voorsprong van 1-nul oor Indië in die reeks van drie T20s na ‘n oorwinning met 12 lopies in die eerste wedstryd in Chennai. Suid-Afrika het ‘n puik 189 vir vier aangeteken danksy 81 deur Tazmin Brits en 57 deur Marizanne Kapp. Hulle het die gasvroue daarna beperk tot 177 vir vier toe Ayabonga Khaka, Chloe Tryon, Nadine de Klerk en Nonkululeko Mlaba elk ‘n paaltjie geneem het. Die tweede wedstryd word môre gespeel en die laaste een Dinsdag.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….