Nuus 07:00
BULLETIN 3 Julie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die nuwe Kabinet sal vandag deur hoofregter Zondo ingesweer word
# Die polisie volg leidrade ná die moord op Jacques Freitag
# En rugby: Daar is 20 Springbok Wêreldbeker-wenners in die toetsspan teen Ierland
# Hoofregter Raymond Zondo sweer vandag die nuwe lede van die nasionale uitvoerende gesag by die Kaapstad Internasionale Konvensiesentrum in. President Cyril Ramaphosa het ‘n kabinet saamgestel om al die politieke partye in die regering van nasionale eenheid te huisves. Die DA, wat die tweede grootste party in die eenheidsregering is, het 12 kabinetsposte, die IVP het vier en die UDM, PA, PAC, Good-party, Vryheidsfront Plus en Al Jama-ah een elk.
# Die Nasionale Tesourie berig Suid-Afrika beplan om teen Junie 2025 van die globale gryslys vir vuilgeld weggelaat te word. Die land het tot Februarie 2025 om die 14 oorblywende kwessies aan te spreek wat deur die Finansiële Aksie-taakspan uitgelig is. Ten spyte van optrede ten opsigte van agt van die 22 knelpunte, staan sekere uitdagings vas, insluitende twee naderende verslagdoeningsiklusse. Die Tesourie benadruk de noodsaaklikheid van aansienlike verbetering om die spertyd van Junie 2025 te haal.
# Die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika gaan teen ‘n hooggeregshofbevel appelleer rakende die verwerking van gelisensieerde kragverspreiders se tariefaansoeke vir die 2024/25-boekjaar. Die woordvoerder, Charles Hlebela, sê NERSA se besluite bly staande, hangende die appèluitslag, wat verspreiders toelaat om die goedgekeurde tariewe vanaf 1 Julie 2024 in te stel:
# Die polisie in Gauteng sê hulle volg verskeie leidrade op nadat die liggaam van die voormalige hoogspring-wêreldkampioen, Jacques Freitag, gevind is. Die 42-jarige Freitag wat sedert verlede maand vermis word, se liggaam is met skietwonde naby die Zandfontein-begraafplaas in Pretoria-Wes gevind. ʼn Moordsaak is geopen. Freitag het die wêreldkampioenskap op jeug-, junior en senior vlakke gewen. Hy het by die 2003 Wêreldkampioenskap in Parys goud gewen in hoogspring.
# Die Hongaarse eerste minister, Viktor Orban, sê ‘n wapenstilstand in Oekraïne kan help om vredesonderhandelings met Rusland te bespoedig. Orban, wat een van die Europese leiers is wat die Russiese president, Vladimir Putin, die meeste ondersteun, het Kiev besoek vir samesprekings met die Oekraïense president, Volodymyr Zelensky. Hy het voorgestel ‘n vinnige wapenstilstand kan vredesgesprekke versnel. Orban sê Hongarye sal tot Oekraïne se beskikking wees in sy huidige rol as roterende president van die Europese Unie se Raad, en het beklemtoon hoe belangrik vrede vir die hele Europa is.
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus het ʼn ervare begin-groep met 20 Wêreldbeker-wenners aangekondig wat Ierland Saterdag op ʼn stampvol Loftus Versfeld gaan takel. Daar is 15, onder wie kaptein Siya Kolisi, in die beginspan en nog vyf op die bank. Erasmus sê hulle het ʼn ses-twee-verdeling tussen voor- en agterspelers op die bank met Sacha Feinberg-Mngomezulu wat voor Manie Libbok is:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-59-sent teen die dollar, 19-rand-97-sent teen die euro en 23-rand-58-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-432-dollar-68-sent. Die prys van goud is twee-duisend-328-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 86-dollar-56-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….