Nuus 07:00
BULLETIN 2 Julie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Action Society eis duidelike en meetbare doelwitte vir die nuwe ministers in die stryd teen misdaad
# Spanje sluit aan by Suid-Afrika se saak teen Israel by die Internasionale Geregshof
# En rugby: Die Springbokke se hulpafrigter verwag ‘n harde stryd teen Ierland
# Action Society versoek duidelike doelwitte en streng prestasie-aanwysers vir nuwe ministers in die bekamping van misdaad. Hulle eis integrasie onder ministers om kwesbare groepe te beskerm. Die minister van Korrektiewe Dienste, Pieter Groenewald, word versoek om paroolmonitering op te skerp om herhaalde oortredings te voorkom. Juanita du Preez van die organisasie het kommer uitgespreek oor korrupsie in die polisiemag en pleit vir die desentralisering van die polisiëringsmag na provinsies om reaksie te verbeter:
# Die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty sê hy onderskryf ‘n nasionale dialoog wat gemik is op omvattende mobilisering en transformasie. Hierdie inisiatief is veronderstel om belangrike nasionale uitdagings aan te spreek deur middel van wydverspreide betrokkenheid om eenheid onder progressiewe groepe te verseker. Die sekretaris-generaal van die SAKP, Solly Makaula, het die media oor die besluite van die sentrale komitee toegelig en gesê hulle is daarop ingestel om die werkersklas te bemagtig met inklusiewe regering en beleid wat fokus op werkskepping, die vermindering van armoede en gelykheid.
# Die Arbeidshof het die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika se aansoek om die heraanstelling van sy afgedankte hoof, Zolani Matthews, tersyde te stel, van die hand gewys. Hy is in 2021 afgedank omdat hy dubbele burgerskap het wat volgens die staatsinstelling ‘n materiële oortreding is wat hy nie verklaar het nie. Maande ná Matthews se afdanking het die bemiddelaar, afgetrede regter Robert Nugent, beslis Prasa moet hom weer aanstel en sy agterstallige salaris betaal. Prasa het die bevinding geïgnoreer en aansoek gedoen dat die uitspraak opgeskort word. Die hof sê Matthews se vaste kontrak bly van krag.
# Daar is vertragings met laboratoriumtoetse by gesondheidsorgfasiliteite in Gauteng na ‘n sekerheidskending by die Nasionale Gesondheid-laboratoriumdienste. Die skending raak die IT-stelsels en het ‘n invloed op dienslewering en veroorsaak langer wagtye met toetsuitslae. Voorkeur word gegee aan kritieke toetse soos bloedchemie en dringende infeksiesiftings. Die woordvoerder van die Departement van Gesondheid, Motalatale Modiba, verseker die publiek alles moontlik word gedoen om die probleem by te lê:
# Spanje het die jongste land geword om by Suid-Afrika se saak teen Israel by die Internasionale Geregshof aan te sluit. Suid-Afrika het sy saak laat verlede jaar aanhangig gemaak en beweer Israel oortree die Volksmoordkonvensie met sy militêre optrede in Gaza. Groot dele van Gaza is vernietig en duisende burgerlikes is dood wat tot groot ontworteling gelei het. Spanje verklaar in sy voorlegging dat die Volksmoordkonvensie ʼn belangrike instrument in internasionale reg is vir die voorkoming en straf van volksmoord.
# Rugby: Springbok-hulpafrigter Tony Brown verwag Saterdag ʼn fisiese en hewige stryd teen Ierland op Loftus Versfeld in Pretoria. Ierland het in 2016 laas in Suid-Afrika gespeel toe hulle die eerste keer ooit ʼn plaaslike toets teen die Bokke gewen het. Die wedstryd teen Ierland sal die Bokke se tweede toets van die seisoen wees. Net meer as ʼn week gelede het hulle Wallis op Twickenham in Londen met 41-13 afgeransel. Brown sê hulle is versigtig oor die bedreiging wat Ierland inhou:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-39-sent teen die dollar, 19-rand-74-sent teen die euro en 23-rand-25-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-900-dollar-21-sent. Die prys van goud is twee-duisend-332-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 86-dollar-80-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….