Nuus 07:00
BULLETIN 1 Julie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die regering van nasionale eenheid is ongekend
# Die kiesersopkoms in Frankryk se parlementêre blitsverkiesing is die hoogste in 40 jaar
# En motorsport: George Russell raap ‘n onverwagse sege op in die Oostenrykse Grand Prix
# President Cyril Ramaphosa sê die inkomende regering sal voorkeur gee aan vinnige, inklusiewe en volhoubare ekonomiese groei, en om ‘n meer regverdige samelewing te skep deur armoede en ongelykheid aan te spreek. Hy het sy parlement gisteraand aangekondig met Paul Mashatile wat adjunkpresident bly. Politieke partye in die regering van nasionale eenheid wat ministeries gekry het, sluit in die DA, IVP, Vryheidsfront Plus en Patriotic Alliance. Ramaphosa sê die regering van nasionale eenheid in sy huidige vorm, is ongekend in Suid-Afrika se geskiedenis:
Die ANC het intussen die aankondiging van die nuwe Kabinet onder die regering van nasionale eenheid verwelkom en sê dit toon die veerkragtigheid van die land se demokrasie. Die nuwe Kabinet bestaan uit lede van politieke partye in die regering van nasionale eenheid wat as ministers en adjunkministers aangestel is. Die ANC sê die dinamiese tussenspel tussen beleids- en oorsig-owerhede sal ʼn belangrike bydrae lewer om die regering van nasionale eenheid doeltreffend te maak om hervorming, herstel en nasionale eenheid te bevorder.
# Die vakbond vir algemene nywerhede, Giwusa, se president, Mametlwe Sebei, sê die bourgeoisie-howe misbruik hulle mag om vakbonde te verswak en werkersregte te ondermyn. Sibei noem as voorbeeld die Konstitusionele Hof se bevinding teen Numsa, wat aanvoer vakbonde kan nie regsverteenwoordiging aan lede verskaf wat buite die bestek van hulle organisasies val nie. Hy sê Agri Animal Feeds het die saak aanhangig gemaak:
# Gister se opkoms van kiesers in Frankryk se eerste ronde van die parlementêre blitsverkiesing, is die hoogste in byna 40 jaar. Volgens die ministerie van Binnelandse Sake was die opkoms 59,39-persent, skaars drie ure voordat die stemlokale sou sluit. Dis ʼn toename van byna 20 punte vergeleke met die 2022-verkiesing. President Emmanuel Macron het die blitsverkiesing uitgeroep ná sy Renaissance-party se nederlaag teen die National Rally in die Europese parlementsverkiesing. Slegs kandidate wat meer as 12,5-persent stemme kry, kan deurgaan na die volgende ronde.
# Motorsport: George Russell van Mercedes het die Oostenrykse Grand Prix gewen nadat Red Bull-renjaer Max Verstappen en Lando Norris van McLaren in die stryd om voor te loop, gebots het. Met sewe rondtes oor is Verstappen met tien sekondes gestraf omdat hy die botsing met Norris veroorsaak het. Die McLaren-bestuurder moes onttrek. Norris se spanmaat, Oscar Piastri, was tweede en Carlos Sainz van Ferrari derde. Russell sê hy is gelukkig met die tweede oorwinning van sy Formule Een-loopbaan:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-8-sent teen die dollar, 19-rand-44-sent teen die euro en 22-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-436-dollar-84-sent. Die prys van goud is twee-duisend-326-dollar-71-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 85-dollar-30-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Student aan die Universiteit van die Wes-Kaap, Asenathi Mjacu, moedig ander studente aan om los werk te kry of klein ondernemings te begin om hulle inkomste aan te vul. Mjacu, ‘n derdejaar-student, het tydens haar oorbruggingsjaar in 2020 haar met eie klerereeks begin. Sy het naaldwerk en ontwerp bemeester en staatgemaak op haar vasberadenheid en aanlyn bronne soos YouTube en Tiktok-leervideo’s. Die 23-jarige het haar eerste naaldwerkmasjien gekoop met ‘n koopbewys van een-duisend-rand wat die Mosselbaaise burgemeester, Dirk Kotzé, aan haar toegeken het vir haar matriekprestasie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….