Nuus 07:00
BULLETIN 29 Junie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die IVP vra ‘n vinnige oplossing van die kwessies oor die regering van nasionale eenheid
# Die Black Business Council is ook bekommerd oor die stadige politieke onderhandelings
# En, krieket: Suid-Afrika is vol vertroue voor die T20 Wêreldbeker-eindstryd teen Indië
# Die IVP-leier, Velenkosini Hlabisa, vra die ANC en die DA om uitstaande kwessies oor die vorming van die regering van nasionale eenheid op te los. Hy beklemtoon die noodsaaklikheid van die opsyskuif van persoonlike belange om die nuwe kabinet te finaliseer om die land se dringende kwessies aan te spreek. Hlabisa sê die IVP bly verbind tot die regering van nasionale eenheid:
Die Black Business Council is ook bekommerd oor die stadige pas van die regering van nasionale eenheid se onderhandelings tussen president Cyril Ramaphosa en die DA-leier, John Steenhuisen. Ramaphosa het die noodsaaklikheid van ‘n billike ooreenkoms beklemtoon vir ‘n bestendige regering. Die uitvoerende hoof van die raad, Kganki Matabane, het aan die SABC gesê die ANC moet sy standpunt oor ekonomiese transformasie handhaaf te midde van verskillende sienings van die DA:
# Regter Anthony Millar van die Hooggeregshof in Gauteng het bevind die klassifisering van swart advokate jonger as 30 as nie histories agtergeblewe nie, is ongrondwetlik. Millar het bevind hierdie definisie verontagsaam die ekonomiese, maatskaplike en opvoedkundige gevolge van apartheid. Millar het ook die litigasietender van die Nasionale Tesourie van verlede jaar tersyde gestel weens die omgekeerde gebruik van die definisie en bepaal dit is onderhewig aan hersiening. Die uitspraak volg op ‘n uitdaging deur die Algemene Balieraad en Advokate vir Transformasie teen die staat se tenderproses vir verwysingsadvokate.
# Krieket: Suid-Afrika staan vanmiddag voor ‘n Dawid teen Goliat-stryd in die eindstryd van die T20 Wêreldbeker teen Indië op die Kensington-ovaal. Die Proteas wil hulle eerste Wêreldbeker-trofee verower nadat hulle Afghanistan met nege paaltjies geklop het. Indië het Engeland met 68 lopies verslaan en sal na verwagting klipharde teenstanders wees. Spelers soos snelbouler Kagiso Rabada en kolwer, Quinton de Kock sal hulle vaardighede ten toon stel teen ‘n Indiese span met veterane, insluitend kolwer Virat Kohli, in ‘n opwindende kragmeting.
# En ten slotte: Suid-Afrika het sy beskermde gebiede die afgelope vier jaar met 11-persent uitgebrei en 89 nuwe bewaringsgebiede van 11-duisend-500-vierkante kilometer bygevoeg. Die Internasionale Unie vir die Bewaring van die Natuur het die vordering benadruk, wat mariene-beskermde gebiede, Ramsar-gebiede, natuurreservate, botaniese tuine en biosfeerreservate insluit. Die land se bio-diversiteitspogings, wat deur instellings soos SANParke onderneem word, weerspieël ‘n verbintenis tot bewaringsleierskap wat gemik is op die bereiking van wêreldwye biodiversiteitsdoelwitte teen 2030.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….