Nuus 07:00
BULLETIN 28 Junie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Gayton McKenzie beskryf Ramaphosa se brief as ‘n beleefde maar ferm verwerping van die DA se planne
# Panyaza Lesufi weerlê bewerings dat die Nasi iSpani-program gestaak is
# En tennis: Andy Murray wil steeds op Wimbledon afskeid neem
# Patriotic Alliance-leier, Gayton McKenzie, sê die DA het die ANC te ver gedryf. President Cyril Ramaphosa het ‘n brief aan DA-leier, John Steenhuisen, gestuur waarin hy die DA kritiseer omdat hy die regering van nasionale eenheid se onderhandelings in gevaar stel. Ramaphosa het die DA daarvan beskuldig dat hy die doelpale verskuif het deur meer kabinetsposte te eis. Ramaphosa het aanvanklik ses kabinetsposte aangebied, insluitend Handel en Nywerheid, en toe daardie portefeulje teruggetrek en een aangebied wat beskou word as minder belangrik. Die DA sê agt kabinetsposte sal proporsioneel aan sy steun in die verkiesing wees.
# Die EFF in Gauteng is besorg oor die beplande beëindiging van kontrakte van die sogenaamde Green Army Uitgebreide Openbare Werkeprogram van die Departement van Landbou, Landelike Ontwikkeling en die Omgewing in Gauteng. Woordvoerder Dumisani Baleni sê die kennisgewing is Woensdag uitgereik en verwys ook na vertragings met die betalings vir Junie. Hy sê die party beywer hom vir volhoubare, staatsbeheerde oplossings om omgewingskwessies en werkloosheid aan te spreek:
Intussen het die premier van Gauteng, Panyaza Lesufi, bewerings verwerp dat die Nasi iSpani-werwingsprogram opgeskort is en sê dit is ongegrond en vals. Die verwarring het ontstaan met ‘n gelekte omsendbrief oor die Green Army uitgebreide openbare-werkeprogram wie se kontrak van een jaar verlede maand geëindig het. Lesufi se woordvoerder Sizwe Pamla sê pogings om werkloosheid in die provinsie aan te spreek, gaan onverpoosd voort:
# Prasa het aansienlike vordering gemaak in die herstel van passasierspoordienste met 40-miljoen passasiers wat in die 2023/2024-boekjaar 31 van die 40 spoorkorridors wat operasioneel is, gebruik het. Die groep-uitvoerende hoof, Hishaam Emeran, het by die Africa Rail-konferensie aangekondig Prasa het 80-persent van sy korridors herwin na erge diefstal en vandalisme tydens die Covid-19-inperking. Emeran het ook benadruk Prasa het 12-miljard-rand in kapitaalprojekte belê en daar was ‘n toename van byna 200-persent in pasassiersgetalle die afgelope jaar. Hy sê spoordienste is absoluut onontbeerlik want dit bied bekostigbare, veilige en betroubare openbare vervoer.
# ‘n Voormalige president van Honduras, Juan Orlando Hernández, is tot 45-jaar gevonnis in ‘n Amerikaanse tronk vir dwelm-misdade. Hernández, wat in Maart skuldig bevind is aan die invoer van kokaïen en die besit van masjiengewere, word beskuldig dat hy Honduras as ‘n narkotiese staat bestuur. Berigte dui aan Hernández het miljoene se omkoopgeld van dwelmsmokkelaars ontvang. Aanklaers het gesê hy het ‘n kokaïen-snelweg na die Verenigde State gebaan. Hy handhaaf sy onskuld en noem die beskuldigings onregverdig. Hy is ook beboet met 146-miljoen-rand.
# Tennis: Andy Murray is steeds vol hoop dat hy aan Wimbledon gaan deelneem nadat hy ‘n operasie aan ‘n spinale sist ondergaan het. Hy het erken dit is onwaarskynlik dat hy in die enkelspel te sien sal wees. Die 37-jarige, wat beplan om by die Olimpiese Spele in Parys uit te tree, moes noodgedwonge uit sy tweederonde-wedstryd by Queens onttrek. Murray het twee van sy drie Grand Slams by Wimbledon gewen. Hy sê dit is onmoontlik om te sê wanneer hy weer sal kan speel. Die trekking vir die enkelspel vind Vrydag plaas, met eersteronde-wedstryde wat Maandag begin.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-48-sent teen die dollar, 19-rand-77-sent teen die euro en 23-rand-36-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-560-dollar-80-sent. Die prys van goud is twee-duisend-323-dollar-49-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 85-dollar-67-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….