Nuus 07:00
BULLETIN 27 Junie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika is deur na die eindstryd van die T20-wêreldbeker
# COSATU verklaar sy solidariteit met die Keniaanse betogers
# En die Landbank is bemoedig deur die groeiende aantal jong boere
# Ons begin die bulletin met opwindende sportnuus: Die Proteas is vir die eerste keer ooit deur na die T20-wêreldbeker-eindstryd nadat hulle Afghanistan met nege paaltjies verslaan het. Afghanistan het die loot gewen by die Brian Lara-stadion in Tarouba, Trinidad, en besluit om eerste te kolf. Hulle was egter na 11 boulbeurte en vyf balle op 56 almal uit. Dis die laagste telling in ‘n T20-wêreldbeker-halfeindronde en ook die laagste teen Suid-Afrika. Die Proteas het geantwoord met 60 lopies vir die verlies van een paaltjie na agt boulbeurte. Die tweede halfeindwedstryd tussen Indië en Engeland vind vanmiddag plaas en die eindwedstryd Saterdag.
# COSATU sê hy steun betogende Keniane wat teen ‘n Wetsontwerp op Finansies betoog. Die vakbond het staatsgeweld teen vreedsame betogers veroordeel en vra aanspreeklikheid vir die gebruik van geweld. Die vakbond ondersteun ook die Seven Days of Rage, wat ‘n geskiedkundige oomblik is vir Keniane wat betoog teen strawwe ekonomiese toestande. Die nasionale woordvoerder, Zanele Sabela, versoek Afrikalande om openbare welsyn bo neo-liberale beleide te plaas:
Die Keniaanse president, William Ruto, het intussen ‘n omstrede finansiële wetsontwerp wat wetgewers gister aanvaar het, teruggetrek. Dit volg ná tientalle sterftes weens die Seven Days of Rage-betogings. Ruto het tydens ‘n televisietoespraak gesê die wetsontwerp sal na verwagting verskeie sektore, insluitend gesondheid en onderwys, bystaan deur 48-miljard-rand in te samel. Die president het begrotingsbesnoeiings en besparingsmaatreëls vir die parlement, die regbank en provinsiale regerings voorgestel om fiskale verantwoordelikheid te verseker:
# Die Landbank verwelkom meer jong boere in die sektor. Die uitvoerende hoof Themba Rikhotso sê die werkloosheidsyfer onder jongmense is hoog, maar volgens Statistieke SA was daar verlede jaar groter indiensneming in die landbou. Rikhotso beklemtoon landbou se rol in indiensneming en voedselsekuriteit. Hy sê elf-persent van hulle lenings is aan jongmense toegestaan. Die Gemengde Finansiële Skema van die Landbank staan jong boere by en bied skenkings en lenings om volhoubare groei te steun.
# Suid-Afrika het panele by die Wêreldhandels-organisasie en die Dispuutbeslegtingsliggaam versoek om die Europese Unie se regulasies oor swartvlek en valskodlingmot te ondersoek. Die regering voer aan hierdie maatreëls is onwetenskaplik en diskriminerend, en benadeel plaaslike sitrusboere. Die sitrusbedryf in Suid-Afrika is deurslaggewend aangesien hy plaaslik 140-duisend werksgeleenthede ondersteun. Die totstandkoming van hierdie panele is Suid-Afrika se eerste geskil wat verby die paneelstadium vorder by die Wêreldhandels-organisasie. ‘n Besluit word oor nege maande verwag.
# ‘n Amerikaanse soldaat is aangekla van die ontvoering en verkragting van ‘n tienermeisie in Okinawa, ‘n Japannese eilandketting waar die streek se grootste Amerikaanse militêre basis is. Volgens die BBC sal die saak waarskynlik die jarelange plaaslike teenstand teen Amerikaanse militêre teenwoordigheid aanwakker, met 54-duisend Amerikaanse soldate wat in Japan diens doen. Die woede is verder aangevuur deur vorige seksuele aanrandingsake. Een van die hoëprofielsake was in 1995, toe ‘n twaalf-jarige meisie deur drie Amerikaanse dienspersoneel verkrag is, wat gelei het tot maande-lange betogings.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-14-sent teen die dollar, 19-rand-40-sent teen die euro en 22-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-968-dollar-26-sent. Die prys van goud is twee-duisend-299-dollar-28-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 84-dollar-12-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….