Nuus 07:00
BULLETIN 15 Augustus 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika is ‘diep beskaamd’ oor aanvalle op buitelandse burgers
# Die GOOD-party vra dat die Madlanga-kommissie ‘n permanente waghond word
# En rugby: Die Griekwas oorrompel die Haaie in Kimberley
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika is “diep beskaamd” oor aanvalle op buitelandse burgers. Sy opmerkings kom te midde van kommer oor aanvalle wat op migrante en ander buitelanders gemik is. Ramaphosa het voor ‘n vergadering van die leiers van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap in Durban gesê geweld en xenofobie het geen plek in Suid-Afrika nie, en die regering is daartoe verbind om almal wat binne die landsgrense woon, te beskerm:
# Die Vryheidsfront Plus sê Afrikaanse onderwys en privaat befondsde instellings moet nie as ‘n vorm van onderdrukking beskou word nie. Die party het reageer op kommentaar deur die voormalige minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Naledi Pandor, oor die Afrikaanse Universiteit, Akademia. Wynand Boshoff van die VF Plus sê privaat befondsde Afrikaanse onderwys is ‘n wettige keuse. Boshoff voer aan die regering moet eerder fokus op oplossings vir probleme by die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente:
# Die GOOD-party sê die Madlanga-kommissie moet ‘n permanente nasionale polisie-integriteitstribunaal word om korrupsie en beweerde verbintenisse tussen wetstoepassing en georganiseerde misdaad te ondersoek. Die sekretaris-generaal van GOOD, Brett Herron, sê die kommissie het die waarde van oop ondersoeke bewys. Hy glo soortgelyke ondersoeke is nodig in Kaapstad, waar gemeenskappe lank reeds bekommerd is oor beweerde polisie- en bende-samewerking:
# Die Drankfederasie van Suid-Afrika sê onwettige alkohol verteenwoordig sowat 18-persent van alle alkohol wat in Suid-Afrika verkoop word, met die onwettige mark wat meer as 25-miljard-rand werd is. ‘n Studie deur Euromonitor toon die onwettige alkoholmark het sedert 2017 met 55-persent gegroei en die regering het in 2024 bykans 17-miljard-rand aan aksynsinkomste verloor. Die federasie sê onwettige alkohol se laer pryse verhoog die aanvraag, ondanks gesondheidsrisiko’s. Die organisasie vra die regering, wetstoepassingsowerhede en die bedryf om saam te werk en die probleem hok te slaan.
# Reddingswerkers in Colombia was in ‘n wedloop met tyd gewikkelom ‘n man te red wat byna vier dae na ‘n kragtige aardbewing lewend onder ‘n ineengestorte hotel gevind is. Ten minste 285 mense is dood in die aardbewing met ‘n meting van 7,4 en byna vier-duisend is beseer, terwyl byna 400 mense vermis word. Reddingspanne soek in die puin in Pereira, in die hoop dat ander dalk nog leef. Die ramp het tien-duisende huise beskadig en baie mense na skuilings gedwing met voortdurende naskokke wat reddingspogings bemoeilik. Die aardbewing is ‘n groot toets vir president Abelardo de la Espriella, wat slegs dae voor die ramp in die amp getree het.
# En rugby: Die verdedigende kampioene, die Griekwas, het hul posisie boaan die Curriebekerpunteleer verder verstewig met ‘n oortuigende 55-21 oorwinning oor die Haaie in Kimberley. Die Haaie het laat in die eerste helfte voorgeloop met 21-19, maar ná rustyd het die Griquas die wedstryd oorheers en vyf agtereenvolgende drieë gedruk. Dylan Maart en die plaasvervanger-haker Tiaan Lange het elk ‘n driekuns behaal, terwyl die Griquas se kragtige losgemaal ook deurslaggewend was. Die oorwinning plaas die verdedigende kampioene op die drumpel van ‘n plek in die uitspeelrondes en verstewig ook sy posisie op die punteleer.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….