Nuus 07:00
BULLETIN 31 Julie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa se regspan verdedig minister Mchunu se spesiale verlof
# Die betogings oor brandstofverhogings in Angola eis 22 lewens
# En krieket: Suid-Afrika speel teen Australië in die enigste halfeindstryd van die Wêreldkampioenskap van Legendes
# President Cyril Ramaphosa se regspan sê dit was die regte besluit om die minister van Polisie, Senzo Mchunu op spesiale verlof te plaas en dit verseker goeie staatsbestuur. Die MK-party daag egter Ramaphosa se besluit in die Konstitusionele Hof uit. Ramaphosa se regsverteenwoordiger, Ngwako Maenetje, het in die hof gesê die president het binne sy magte opgetree, om inmenging te verhoed in die ondersoek na KwaZulu-Natal-polisiekommissaris Nhlanhla Mkhwanazi se bewerings:
# Die adjunkminister van Indiensneming en Arbeid, Judith Nemadzinga-Tshabalala, sê geopolitieke skeiding en toenemende handelspanning dreig om ekonomiese interafhanklikheid wat dekades lank gevorm is, te laat ontspoor. Sy het ‘n toespraak gelewer by die vierde G20-indiensnemingswerksgroep se vergadering in die Wes-Kaap. Sy sê ʼn skielike, groot tariefverhoging deur ʼn belangrike handelsvennoot soos Amerika is nadelig vir Suid-Afrika se ekonomiese landskap. Tshabalala sê gelykheid beteken alle nasies het ʼn regverdige aandeel en sterk stem om ekonomiese reëls te bepaal.
# Die EFF het die Wysigingswetsontwerp op Eskom-skuldverligting verwerp en sê die huidige skuldverligtingsbenadering gee voorkeur aan uitleners eerder as gewone Suid-Afrikaners. Die wetgewing wat gister in die Nasionale Raad van Provinsies aanvaar is, pas Eskom se skuldverligtingstoekenning vir die 2025/2026-boekjaar aan van 40-miljard-rand tot 80,2-miljard-rand. Dit stel ook ʼn verdere tien-miljard-rand-toekenning voor vir 2028/2029. EFF-woordvoerder Mathapelo Siwisa sê elektrisiteit moenie vir wins opgewek word nie, maar vir landsburgers se ontwikkeling en lewensbestaan:
# Die SAKP in KwaZulu-Natal sê ten spyte van ʼn beter verhouding met die ANC, bly hy by sy besluit om onafhanklik aan die plaaslike-regeringsverkiesings deel te neem. Die SAKP se provinsiale uitvoerende komitee het verlede jaar ontevredenheid uitgespreek met sy ANC-vennoot in die provinsie wat na bewering nie sy alliansievennote by besluitneming in ag neem nie. Die SAKP in KZN se sekretaris, Themba Mthembu, sê die besluit van die party se kongres is bindend en moet toegepas word:
# Onluste in Angola na brandstofprysverhogings het sedert Maandag 22 lewens geëis. Kalmte het na die hoofstad, Luanda, teruggekeer nadat sporadiese geweerskote Maandag en Dinsdag daar en in verskeie ander stede gehoor is, terwyl mense winkels gestroop en met die polisie gebots het toe geweld gedurende ‘n taxi-staking uitgebreek het. Die staking is die jongste in ‘n reeks betogings nadat die brandstofprys op 1 Julie van vyf-rand-92-sent na sewe-rand-72-sent per liter verhoog is. Dit het die lewenskoste vir miljoene arm mense laat styg in een van Afrika se voorste olieproduserende lande.
# Krieket: Suid-Afrika speel vandag teen Australië in die enigste halfeindstryd van die Wêreldkampioenskap vir Legendes op Edgbaston in Engeland. Die Suid-Afrikaners word aangevoer deur die Proteas se gewese ster-speler, AB de Villiers, wat tot dusver skitterend vaar in die toernooi en in die groepsfase twee agtereenvolgende honderdtalle aangeteken het. Die Proteas is tweede op die punteleer na Pakistan, gevolg deur die Aussies en Indië. Vandag se wenner speel Saterdag in die eindstryd teen Pakistan nadat Indië sy halfeindstryd geboikot het weens die geopolitieke spanning tussen die twee buurlande.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-98-sent teen die dollar, 20-rand-56-sent teen die euro en 23-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-171-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-288-dollar-62-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-30-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….