Nuus 07:00
BULLETIN 25 Junie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# John Steenhuisen sê die DA se belangrikste missie in die regering van nasionale eenheid is om te dien
# Die ANC dring aan op die tydige samestelling van ‘n kabinet
# En rugby: Angus Gardner van Australië onttrek as skeidsregter vir die Bok-toets teen Ierland
# Die DA-leier John Steenhuisen sê die party se basiese doelwit in die regering van nasionale eenheid is om alle mense te dien, op te hef en waardigheid te verleen. Die party het gister sy 20-jarige bestaan gevier. Steenhuisen sê samewerking tussen partye wat die Grondwet wil beskerm teenoor dié wat dit wil opskeur, gee die land hoop. Hy sê dit sal jare van volgehoue harde werk, uithouvermoë, volwassenheid en samewerking op alle vlakke van die samelewing vereis om die land weer op koers te kry.
Die ANC sê intussen die samestelling van die kabinet van die regering van nasionale eenheid word gerig deur inklusiwiteit en bevoegdheid. Dit oorweeg die uitkoms van die verkiesing, nasionale belang asook bevoegdheid van kabinetsministers. Die party bevestig die tweede fase om ‘n regering saam te stel, insluitende die samestelling van die kabinet, is onderweg. Dit vereis eenheid en samewerking tussen politieke partye in die regering. Volgens die ANC is dit noodsaaklik om die kabinet spoedig saam te stel om die dringende behoeftes van die mense aan te spreek.
En Al Jamah-ah sê hy het by die regering van nasionale eenheid aangesluit om die DA en sy bondgenote te verswak. Die party verwerp ‘n koalisie onder leiding van die DA weens die party se ondersteuning van Sionistiese beleid en minderheidsregering. Hy beweer eksterne inmenging in die verkiesing het die DA bevoordeel. Partyleier, Ganief Hendricks, wil ‘n progressiewe regering van nasionale eenheid hê met eendersdenkende partye wat die invloed van die DA kan beperk:
# Die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid het vroeë uitbetaaldatums vir verskeie toelaes vir Julie bevestig. Omdat 6 Julie op ‘n Saterdag val, sal betalings aangepas word. Toelaes vir ouer persone word op 2 Julie betaal, ongeskiktheidstoelaes op 3 Julie en kindertoelaes op 4 Julie. Hierdie toelaes ondersteun sedert Mei 2020 nagenoeg 18 miljoen Suid-Afrikaners, vlugtelinge en asielsoekers.
# Rugby: Australiese skeidsregter Angus Gardner het weens persoonlike redes onttrek aan die Springbokke se toetsreeks teen Ierland en Luke Pearce van Engeland vervang hom. Wêreldrugby het dit Maandag sonder verdere verduideliking aangekondig. Die skeidsregter-program vir Julie se toetse moes egter in geheel aangepas word. Pearce is op 6 Julie skeidsregter vir die Springbokke se eerste toets teen Ierland en Karl Dickson op 13 Julie vir die tweede toets teen die Iere. Die Britse vroue-skeidsregter Hollie Davidson tree op 20 Julie in Bloemfontein as skeidsregter op wanneer die Bokke en Portugal kragte meet.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-10-sent teen die dollar, 19-rand-43-sent teen die euro en 22-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-580-dollar-4-sent. Die prys van goud is twee-duisend-326-dollar-6-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 85-dollar-7-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Museum in Tasmanië het met ‘n blink plan vorendag gekom na ‘n opdrag om nie toegang tot sy “Vrouesitkamer” tot vroue alleen te beperk nie. ‘n Kunswerk van Picasso is toe in ‘n vrouetoilet gehang. Die Museum vir Ou en Nuwe Kuns in Hobart het glo teen ‘n man gediskrimineer wat toegang geweier is tot die “Vrouesitkamer” hoewel hy vir toegang tot die museum betaal het. Euronews berig die kurator, Kirsha Kaechele, het onderneem om moontlike skuiwergate te ondersoek, insluitend om die sitkamer in ‘n toilet te omskep.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….