Nuus 07:00
BULLETIN 22 Junie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# OUTA vra president Ramaphosa om die kabinet te hervorm vir beter regeringsbestuur
# Beurtkrag-opskorting is nou ononderbroke vir 86 dae
# En, krieket: Die Proteas kruip nader aan ‘n T20 Wêreldbeker-halfeindstryd na ‘n sewe-lopie-oorwinning oor Engeland
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik moedig president Cyril Ramaphosa aan om nuwe kabinets-aanstellings versigtig te oorweeg vir verandering wat werk. Die uitvoerende hoof Wayne Duvenage vra ‘n vaartbelynde kabinet om doeltreffendheid en fiskale bestuur te verbeter vir deursigtige en aanspreeklike regeringsbestuur. Die organisasie veroordeel die moontlike her-aanstelling van sekere ministers, onder wie Blade Nzimande, Sindisiwe Chikunga en Gwede Mantashe, en noem voortgesette ondoeltreffendheid en korrupsie in hulle departemente:
# Beurtkrag is nou vir 86 agtereenvolgende dae opgeskort. Eskom sê dit sal voortduur tot verdere kennisgewing. Dit is weens die voortgesette intensiewe fokus op die behoud van die winste met die betroubaarheid en bestendigheid van die opwekking-steenkoolvloot dié winter. Netwerk-oorlading bly egter ‘n kwessie in sekere gebiede weens elektrisiteitdiefstal. Eskom-woordvoerder, Daphne Mokwena:
Intussen gaan Eskom vrystellings aanvra van Minimum Uitstralings-standaarde vir vyf steenkoolstasies wat ná 2030 nog gaan werk. Die voormalige minister van Omgewingsake, Barbara Creecy het toestemming verleen dat Hendrina, Grootvlei, Arnot, Camden en Kriel teen huidige beperkings tot 31 Maart 2030 bedryf kan word. Eskom moet binne 12-maande ‘n plan vir die sluiting van die kragstasies indien. Bykomende vrystellingsaansoeke vir ander stasies is ook binne 60-dae verskuldig.
# Die president van Oekraïne, Volodymyr Zelensky, het die aanvang van toetredingsgesprekke met die EU volgende week verwelkom. Dis ‘n stap wat amptelik die begin van sy land se pad tot aansluiting sal aandui. Die aankondiging volg diep in die derde jaar van Rusland se inval, wat dikwels deur Oekraïne uitgebeeld word as ‘n tasbare stryd om deel te wees van die Weste en Europa. Ministers van die Europese Unie sal Dinsdag eers met Oekraïne en dan met Moldawië in Luxemburg begin onderhandel.
# En, krieket: Engeland se droom van ‘n T20 Wêreldbeker-half-eindstryd wankel nadat hulle ‘n riller teen Suid-Afrika in die laaste beurt in St Lucia verloor het. Die Proteas se totaal was 163 vir 6, en Engeland moes 14 lopies met die laaste ses balle aanteken. Die wedstryd het egter in die Suid-Afrikaners se guns gedraai toe Aiden Markram met die eerste bal van die laaste beurt Harry Brook vir 53 uitgevang het. Suid-Afrika is nou heelwat nader aan die halfeindstryd, en het tot dusver albei hulle Super 8-wedstryde gewen. Hulle pak die Wes-Indiese Eilande volgende.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….