Nuus 07:00
BULLETIN 21 Junie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ’n Uitsaaikoalisie dring by die nuwe regering aan om die SABC se onafhanklikheid voorop te stel
# Die VF Plus word die sewende party wat by regering van nasionale eenheid aansluit
# En Olimpiese Spele: Saskok voeg nog 81 atlete by Span SA
# Die SOS Support Public Broadcasting Coalition en verskeie burgerregte-organisasies versoek politieke partye om voorrang te gee aan die onafhanklikheid en volhoubaarheid van die SABC met die nuwe regering wat oorneem. Hulle vra die voorgestelde Wetsontwerp op die SABC moet onttrek word. Die koördineerder van die koalisie, Noor Ahmad, sê met die sluiting van groot gedrukte koerante is ‘n sterk en onafhanklike SABC noodsaaklik om ‘n robuuste nuus-ekosisteem te handhaaf:
# Die VF Plus het gistermiddag aangekondig hy het besluit om by die regering van nasionale eenheid aan te sluit saam met die ANC, DA, IVP, PA, GOOD en PAC. Die partyleier Pieter Groenewald sê die VF Plus het ‘n uitnodiging ontvang en na deeglike oorweging besluit om te help met die herstel en herbou van die land. Hy sê die party het die verklaring van voorneme onderteken:
# Die Streekhof in Oos-Londen het die saak teen die leier van die EFF, Julius Malema, tot 1 November uitgestel vir slotbetoë. Malema en die direkteur van ‘n sekerheidsmaatskappy, Adriaan Snyman, word aangekla van onder meer onwettige besit van ‘n vuurwapen en roekelose bedreiging. Die saak is deur die burgerregtegroep, AfriForum, aanhangig gemaak. Die woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag in die Oos-Kaap, Luxolo Tyali, sê geskrewe betoë moet nou voorgelê word:
# Die Hooggeregshof in Johannesburg het die Stad Johannesburg en City Power beveel om net meer as een-miljard-rand, rente ingesluit, op sy onbetaalde elektrisiteitsrekening af te betaal. Dit volg nadat Eskom in Mei ‘n dringende aansoek ingedien het om geld in te vorder wat sedert Oktober 2023 uitstaande is. Die kragverskaffer sê toe die saak op 4 Junie 2024 aangehoor is, het die totale bedrag wat die stad hom skuld op 3,4-miljard-rand gestaan. Die stad het op daardie stadium beweer Eskom vra te veel vir elektrisiteit en gesê hy gaan die hofsaak teenstaan.
# Die uittredende eerste minister van Nederland, Mark Rutte, word die volgende hoof van NAVO, op ‘n belangrike tydstip vir die alliansie. Die ander aanspraakmaker, die president van Roemenië, Klaus Iohannis, het onttrek. Rutte word na verwagting binnekort formeel deur die 32 nasies in NAVO benoem en sal oorneem wanneer die huidige hoof, Jens Stoltenberg, op 1 Oktober uittree. Rutte neem die pos op ‘n gevaarlike tyd vir die Westerse bondgenote oor met Rusland se voortslepende oorlog in Oekraïne en Donald Trump wat in November weer die president van Amerika wil word.
# Olimpiese Spele: Die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee het Woensdag nog 81 name uit nege sportkodes bekendgemaak wat aan volgende maand se Spele gaan deelneem. Span Suid-Afrika het verlede maand 39 atlete uit sportsoorte soos watersport, branderplankry en rotsklim se name bevestig. Suid-Afrika sal aan 17 van die 32 Olimpiese sportsoorte deelneem. Saskok het vroeër aansporings van 400-duisend-rand vir ʼn goue medalje, 200-duisend-rand vir silwer, en 100-duisend-rand vir brons aangekondig. Hy het intussen nog finansiële aansporings vir medaljewenners bevestig.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-95-sent teen die dollar, 19-rand-24-sent teen die euro en 22-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-687-dollar-41-sent. Die prys van goud is twee-duisend-359-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 85-dollar-56-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….