Nuus 07:00
BULLETIN 19 Junie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die sekerheidsgroepering is gereed om die presidensiële inhuldiging by die Uniegebou te polisieer
# Die PAC besluit om deel te neem aan die regering van nasionale eenheid
# En ‘n ballistiese deskundige betwis die bewyse in die Malema-vuurwapensaak
# Die nasionale gesamentlike operasionele en intelligensiestruktuur, NATJOINTS, sê hy is gereed om enige wetteloosheid by die Uniegebou te hanteer waar Cyril Ramaphosa vandag as staatshoof ingehuldig word. Polisiewoordvoerder Athlenda Mathe sê hulle sal geen ontwrigting of swak gedrag verdra nie:
Die PAC sê intussen hy het besluit om deel te wees van die regering van nasionale eenheid. Die PAC se sekretaris-generaal, Apa Pooe, sê hierdie strategiese besluit is die gevolg van die party se verbintenis om beleidsposisies van binne die regering te verander. Pooe sê die besluit is gewortel in die geloof dat die PAC die land kan wegstuur van regse neigings en die winste beskerm wat tot dusver behaal is:
# Daar is geen bewys dat die koeëldoppie wat in 2018 op die perseel van die EFF se vyfde verjaarsdagviering in Mdantsane gevind is en die wapen wat as bewysstuk ingehandig is, met mekaar verband hou nie. Dit is die mening van die ballistiese kenner, JC de Klerk, wat vir die verdediging getuig. Die aanklagte teen die EFF-leier Julius Malema en sy lyfwag Adriaan Snyman, volg ná ‘n video waarop Malema blykbaar ʼn geweer voor ʼn skare mense afvuur. Die verhoor gaan vandag voort.
# Die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor het ‘n veldtog van stapel gestuur wat jong Suid-Afrikaners oor die gevare van dobbel waarsku. Die hoof van Verbruikersopvoeding, Lyndwill Clarke, sê dobbelary kan tot verslawing en ernstige finansiële verliese lei. Clarke sê die wedbedryf se inkomste het van 8,8 miljard-rand in 2019/20 tot 23,7 miljard-rand in 2022/23, gestyg te midde van toenemende werkloosheid en lewenskoste. Hy moedig groter bewustheid en regulering aan om finansiële onstabiliteit, geestesgesondheidskwessies en akademiese agteruitgang onder die jeug te voorkom.
# Rugby: Die Nieu-Seelandse speler met die meeste wedstryde op sy kerfstok, Sam Whitelock, is die kaptein van die Barbarians in sy laaste wedstryd wanneer hulle Saterdag teen Fidji in Londen uitdraf. Dié wedstryd word gespeel na die Springbokke teen Wallis op dieselfde veld kragte gemeet het. Die 35-jarige slot se laaste wedstryd van die 153 vir die All Blacks was in die eindstryd van die Rugby-Wêreldbeker wat sy span verloor het. Ander spelers in Whitelock se span, is die Engelse sterre Jonny May, Ben Youngs, Kyle Sinckler asook die Franse senter Gael Fickou.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-3-sent teen die dollar, 19-rand-37-sent teen die euro en 22-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-245-dollar-72-sent. Die prys van goud is twee-duisend-330-dollar-84-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 85-dollar-25-sent per vat.
# En ten slotte, die Paryse Modeweek het gister begin met die hip-hop sanger Pharrell Williams wat sy jongste handelsmerkgeleentheid vir Louis Vuitton by die hoofkwartier van die Verenigde Nasie se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie aangebied het. UNESCO is ‘n simbool van internasionale diplomasie. Met die tema The World is Yours, is ‘n voorsmakie op Instagram versprei wat kinders as diplomate wys en aangemoedig word om hulle vir ‘n meer verenigde wêreld te beywer met, natuurlik, briewetasse met die Vuitton-handelsmerk daarop.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….