Nuus 07:00
BULLETIN 18 Junie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC verwelkom die ondertekenaars van die regering van nasionale eenheid
# Minstens 19 pelgrims is op die Hadj dood te midde van ’n ernstige hittegolf in Saoedi-Arabië
# En rugby: Loftus maak gereed vir die Verenigde Rugbykampioenskap-eindstryd tussen die Bulle en Glasgow Warriors
# Die ANC het die vorming van ‘n regering van nasionale eenheid aangekondig ná vanjaar se verkiesing. ANC-woordvoerder, Mahlengi Bhengu-Motsiri, sê die ANC, DA, IFP, GOOD-party en Patriotic Alliance het die Verklaring van Voorneme om aan ʼn regering van nasionale eenheid deel te neem, amptelik onderteken. Bhengu-Motsiri sê dit verteenwoordig 273 setels, of 68-persent van die setels in die Nasionale Vergadering. Sy sê die ANC doen ʼn beroep op ander politieke partye wat besluit het om nie deel hiervan te wees nie, om hulle besluit te heroorweeg.
# Die onderwysaktivis Hendrick Makaneta doen ʼn beroep op die regering van nasionale eenheid om onderwys as belangrike prioriteit te beskou, en misdaad dringend te hanteer. Makaneta sê sommige gemeenskappe is nie meer veilig vir inwoners nie en die toenemende misdaad spoel oor na skole in hierdie gemeenskappe. Hy sê een manier waarop misdaad in gemeenskappe verminder kan word, is deur die jeug oor op te lei:
# Die groep, The Cry of the Xcluded, vra jongmense om saam te staan en te eis dat die regering van nasionale eenheid belê in werkverskaffings-alternatiewe; ‘n basiese inkomstetoelae instel; begrotingsbesnoeiings stop wat diegene wat uitgesluit is seermaak; en ryk mense belas. Motsi Khokhoma van die groep sê vir baie jong Suid-Afrikaners is ekonomiese uitsluiting ‘n daaglikse werklikheid. Die gebrek aan werksgeleenthede, saam met onvoldoende steun vir entrepreneurskap en klein ondernemings, gee hulle min keuses. Khokhoma sê die ekonomiese uitsluiting vererger armoede en maatskaplike onbestendigheid.
# Die Stad Tshwane sê hy streef daarna om 95-persent van alle meters in die stad te lees om akkurate rekeninge te verseker. Die meters moet elke maand gelees word en die aanbevole teiken is minstens 95-persent. Die burgemeesterskomiteelid vir Finansies, Jacqui Uys, moedig inwoners aan om probleemnavrae by die stad te doen en hulle uitstaande skuld te betaal:
# Talle pelgrims is op die Hadj in Saoedi-Arabië oorlede en nog meer word glo vermis. Volgens die jongste syfers is 19 mense se dood bevestig en 17 ander word nog vermis. Minstens ses van die slagoffers is aan sonsteek dood, met temperature van tot 50-grade Celsius wat vir die komende dae voorspel word. Die oorsaak van die ander sterftes is nie aangedui nie. Die Saoediese meteorologiese owerhede sê in Mekka het die kwik tot 47-grade gestyg, en in Mina tot 46.
# Rugby: Die Verenigde Rugbykampioenskap-eindstryd tussen die Bulle en Glasgow Warriors op Loftus skop Saterdagmiddag sesuur af. Dit word voorafgegaan deur ʼn regstreekse TV-uitsending van die Springbokke se wedstryd teen Wallis op Twickenham. Die VRK-eindstryd is tussen spanne wat nie die gunstelinge in hul onderskeie halfeindstryde was nie. Die Bulle het met Leinster afgereken terwyl die Warriors die verdedigende kampioene, Munster, afgeransel het. Dis die Bulle se tweede VRK-eindstryd in drie seisoene en die eerste tuis. Dit ook die manne van Skotland se eerste sedert 2019.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-25-sent teen die dollar, 19-rand-58-sent teen die euro en 23-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-345-dollar-43-sent. Die prys van goud is twee-duisend-322-dollar-43-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 84-dollar-14-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….