Nuus 07:00
BULLETIN 14 Augustus 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die parlementêre ad hoc-komitee beklemtoon die belangrikheid van sy bevindinge en aanbevelings
# Die Wêreldgesondheidsorganisasie is bekommerd oor Trump se uitvoerende bevel oor entstowwe
# En laastens, Boulders-strand is weer een van die beste strande ter wêreld
# Die voorsitter van die parlementêre ad hoc-komitee, Soviet Lekganyane, sê die bevindings en aanbevelings van die komitee kan help om die strafregstelsel te vorm. Die komitee is saamgeroep om bewerings van KwaZulu-Natal se polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, te ondersoek. Hy beskuldig hooggeplaaste politici, polisieleiers en misdaad-kartelle dat hulle Suid-Afrika se strafregstelsel binnegesypel het. Lekganyane sê die komitee kan ‘n bespotting word as hy nie bevindings maak oor diegene wat van verkeerde dade beskuldig word nie:
# Die MK-party het begin met formele verrigtinge in beide die Parlement en voor die Madlanga-kommissie van ondersoek teen die voorsitter van die portefeuljekomitee oor Polisie, Ian Cameron. Sy naam is by die kommissie genoem in verband met bewerings dat hy deel was van ‘n komplot deur die Ondersoekdirektoraat Teen Korrupsie om die geskorste nasionale kommissaris, Fannie Masemola, te verwyder. Cameron het die bewerings ontken. Die MK-party sê Cameron moet voor die kommissie verskyn om getuienis te lewer, en verseker dat sy weergawe van die gebeure amptelik onder eed op die rekord geplaas word.
# Gauteng se LUR vir Onderwys, Lebogang Maile, sê die idee dat sy departement geld bestee aan kantoorruimte ten koste van skoolbefondsing is kwaadwillig en misleidend. Volgens berigte bestee Gauteng se provinsiale regering meer as 230-miljoen-rand per jaar aan gehuurde distrikskantore vir die departement terwyl skole in die provinsie ernstige begroting-besnoeiings moet hanteer. Die departement se woordvoerder, Onwabile Lubhelwana, sê die departement huur nie kantoorruimte nie, gaan nie huurooreenkomste aan nie, en administreer nie ʼn begroting vir die verkryging daarvan nie:
# Die Wêreldgesondheidsorganisasie se direkteur-generaal, Tedros Adhanom Ghebreyesus, het kommer uitgespreek dat veranderinge aan die Verenigde State se immuniseringsbeleid nie ooreenstem met die beste beskikbare wetenskap nie. President Donald Trump het Maandag ʼn uitvoerende bevel onderteken wat kinders se roetine-inentings van 18 tot 11 verminder. Volgens die bevel word die gekombineerde inenting vir masels, Duitse masels en pampoentjies na drie afsonderlike inentings per siekte aangepas. Ghebreyesus sê die huidige bewyse is onweerlegbaar: Entstowwe is veilig en veroorsaak nie outisme nie:
# Sokker: Suid-Afrika het Nigerië met 2-1 geklop in hul Afrikabeker vir Vroue-uitspeelwedstryd in Marokko en kwalifiseer nou vir die FIFA-uitspeeltoernooi vir volgende jaar se Wêreldbeker in Brasilië. Thembi Kgatlana en Refiloe Jane se doele het Banyana Banyana se oorwinning beklink. Die kwalifiseringsproses se volgende fase vind in November plaas. Dit bestaan uit twee spanne uit Afrika, naamlik Suid-Afrika en Ghana, twee uit Asië en een elk uit Oseanië en Suid-Amerika. Die twee topspanne dring deur na die laaste uitspeelronde in Maart.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-19-sent teen die dollar, 18-rand-68-sent teen die euro en 21-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-497-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-320-dollar-33-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 89-dollar-5-sent per vat.
# En ten slotte: Kaapstad se Boulders-strand het weereens internasionale erkenning verwerf en is 20ste op Big Seven Travel se lys van die wêreld se 50 beste strande vir 2026. Die aantreklikheid in Simonstad is bekend vir sy beskutte waters, granietrotse en sy kolonie van bedreigde Afrika-pikkewyne. Besoekers kan in aangewese gebiede swem en die pikkewyne vanaf die hout-promenade besigtig, maar mag nie die wilde diere voer of aan hulle vat nie. Boulders-strand was in 2021, 12de op dieselfde lys. Die strand is deel van die Tafelberg Nasionale Park en bly ‘n groot toeriste-aantreklikheid.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….