Nuus 07:00
BULLETIN 13 Junie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Konstitusionele Hof wys die MK-party se aansoek van die hand om die eerste sitting van die Parlement te keer
# Die Universiteit Stellenbosch gaan die omstrede Wilgenhof-koshuis sluit
# En krieket: Die kaptein van die Protea-vrouespan sê die Indië-toer is die perfekte opbou tot die Wêreldbeker-toernooi
# Die Konstitusionele Hof het die MK-party se dringende aansoek om ‘n interdik te kry teen die eerste parlementsitting wat môre plaasvind, verwerp. Die party het aangevoer die sitting kan nie plaasvind voor al die onreëlmatighede in die afgelope algemene verkiesing uitgeklaar is nie. Die hof het bevind die saak val nie onder sy jurisdiksie nie. Hy voeg by dis nie in die belang van geregtigheid om direkte toegang toe te staan nie, omdat die aansoek geen meriete het nie. Tien regters van die Konstitusionele Hof het met die uitslag saamgestem.
# Die minister van Openbare Ondernemings, Pravin Gordhan, waarsku teen korrupsie, veral in die onlangse verkiesing. Gordhan het gepraat op die mynwerkersvakbond se nasionale beleidskonferensie in Ekurhuleni, en staatskaping en die uitwerking daarvan op werkloosheid beklemtoon. Hy waarsku ook teen die opvlam van teen-rewolusionêre magte terwyl samesprekings oor die saamstel van ‘n regering van nasionale eenheid momentum kry:
# Die Parlement het die Hooggeregshof in die Wes-Kaap se uitspraak verwelkom dat die EFF nie die reg het om parlementêre prosedures te ontwrig nie. Die woordvoerder van die Parlement, Moloto Mothapo, sê die instelling bly verbind tot die uitvoer van sy grondwetlike verpligtinge sonder inmenging. Die EFF het ook nie geslaag met sy appél teen die skorsing van die partyleier Julius Malema en andere uit die Parlement nie. Die Nasionale Vergadering kom Vrydag byeen vir die eerste sitting van die sewende Parlement. LP’s sal ingehuldig word en ‘n speaker, adjunkspeaker en president sal verkies word.
# Die Universiteit Stellenbosch sê sy rektoraat het die paneel wat aangestel is om die Wilgenhof-kwessie te ondersoek, se finale verslag ontvang en oorweeg. In Januarie is tekeninge wat blykbaar seksuele aanranding uitbeeld, swart kappies en ʼn giftige mengsel van lynolie en aalwynkristalle in twee kamers in die manskoshuis ontdek. Die universiteit se adjunk-visekanselier, professor Deresh Ramjugernath, sê die rektoraat het die paneel se basiese aanbeveling dat Wilgenhof-koshuis gesluit word, eenparig aanvaar:
# Malawi se regering het aangekondig visepresident Saulos Chilima sal ‘n staatsbegrafnis kry. Hy en agt ander mense is Maandag dood in ‘n vliegongeluk onderweg van Lilongwe na Mzuzu. President Lazarus Chakwera het intussen 21 dae van nasionale rou afgekondig, met vlae wat halfstok sal hang. ‘n Datum vir die staatsbegrafnis moet nog afgekondig word.
# Krieket: Die kaptein van die Protea-vrouespan, Laura Wolvaardt, sê die toer na Indië is die perfekte voorbereiding vir Oktober se T20-Wêreldbeker in Bangladesj. Suid-Afrika en Indië sal in drie eendagwedstryde kragte meet waarvan die eerste een Sondag plaasvind. ʼn Eenmalige toets volg dan waarna die besoekers hul toer op die subkontinent met ʼn T20-reeks van drie wedstryde afsluit. Wolvaardt sê die toer bied ook ervaring vir die jong spelers in die groep.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-38-sent teen die dollar, 19-rand-87-sent teen die euro en 23-rand-51-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-885-dollar-76-sent. Die prys van goud is twee-duisend-313-dollar-97-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-25-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….