Nuus 07:00
BULLETIN 11 Junie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Patriotic Alliance sê hy is verbind tot ‘n regering van nasionale eenheid
# Die EFF se aansoek teen sy minagting van die Parlement, word van die hand gewys
# En Malawi se president vra vir internasionale hulp om die vliegtuig met die land se visepresident aan boord te vind
# Die Patriotic Alliance sê hy is steeds gewillig om aan ‘n regering van nasionale eenheid deel te neem en is in gesprek met ander politieke partye. Die party het 2,05-persent van die stemme in die verkiesing behaal, wat hom agt setels in die Parlement gee. Die partyleier, Gayton McKenzie, beweer sommige individue in die ANC probeer hard om hulle te oortuig om uit die regering van nasionale eenheid te bly, en president Cyril Ramaphosa uit die kussing te lig. Die party sê dit is nou tyd om politieke verskille te oorkom en op die land se ontwikkeling te fokus.
# Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie doen ‘n beroep op politieke partye om dienslewering en menseregte voorop te stel wanneer hulle oor die modelle vir ‘n koalisie onderhandel. Die tweede en vyfde grootste partye, die DA en IVP, het gesê hulle stel belang in ‘n regering van nasionale eenheid. ‘n Woordvoerder, Wisani Baloyi, sê partye moet tydens onderhandelings lesse leer uit die slegte ondervindings van plaaslike regeringskoalisies:
# Die Wes-Kaapse Hooggeregshof het die EFF se aansoek vir die ongeldigverklaring van Nasionale Vergaderingsreëls waardeur die wetgewende liggaam teen ses van sy partylede opgetree het, van die hand gewys. Die lede, insluitend die leier Julius Malema en die adjunkpresident, Floyd Shivambu, het die verhoog bestorm terwyl president Cyril Ramaphosa die Staatsrede gelewer het. Hulle is aan minagting van die Parlement skuldig bevind en vir 30 dae sonder betaling geskors. Die woordvoerder van die EFF, Leigh-Ann Mathys, sê hulle gaan teen die beslissing appelleer:
# Malawi se president, Lazarus Chakweera, het Amerika, Israel, Brittanje, en buurlande versoek om te help met die soektog na die vliegtuig met die visepresident Saulos Chilima en nege ander aan boord. Die weermagvliegtuig het van die radar verdwyn toe dit gisteroggend van die hoofstad Lilongwe opgestyg en nie by sy bestemming in Mzuzu aangekom het nie. Chilima was onderweg na die begrafnis van ‘n voormalige kabinetsminister. Chakwera sê alle pogings van owerhede om kontak met die vliegtuig te maak sedert dit van die radar verdwyn het, was tevergeefs:
# Rugby: Die flank Tom Curry is ingesluit in Engeland se groep vir hulle toer na Japan en Nieu-Seeland, ondanks ‘n seisoen wat deur beserings ontwrig is. Sewe spelers van die Premierskapkampioene Northampton is ook ingesluit. Curry is deel van ‘n groep van 36 wat môre uit Brittanje vertrek, hoewel hy net 34 minute gespeel het sedert verlede jaar se Wêreldbeker. Die 25-jarige agterspeler het betyds herstel van ‘n heupbesering om ‘n rukkie te speel in Sale se nederlaag in ‘n Premierskap-halfeindstryd teen Bath op 1 Junie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-74-sent teen die dollar, 20-rand-19-sent teen die euro en 23-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-114-dollar-52-sent. Die prys van goud is twee-duisend-302-dollar-75-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-48-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Nuwe studie het bevind plastiekprodukte met helder kleure breek gouer af na mikroplastiek as dié met ‘n neutrale kleur. Navorsers aan die Universiteit van Kaapstad en die een in Leicester het bevind kleure soos rooi, blou en groen versnel die afbreek van plastiek, en verhoog moontlik omgewingsbeskadiging. Die bevindings, gegrond op beide dakblootstelling en strandmonsters, beteken vervaardigers moet dalk die gebruik van sekere kleurstowwe heroorweeg om mikroplastiek-besoedeling teen te werk.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….