Nuus 07:00
BULLETIN 10 Junie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# RISE Mzansi skenk oorweging aan die ANC se voorstel oor ’n regering van nasionale eenheid
# Die Valke gaan glo nog belangrike ANC-lede arresteer
# En tennis: Alcaraz wen sy eerste Franse Ope-titel
# RISE Mzansi sê hy sal met verskeie politieke partye praat en aan die nasionale dialoog deelneem oor die ANC se voorstel vir ‘n regering van nasionale eenheid. Die party het ‘n onderhandelingspan gelei deur Makashule Gana saamgestel. RISE Mzansi se nasionale woordvoerder, Gugu Ndima, sê indien ‘n speaker van die Nasionale Vergadering en ‘n president nie binne die konstitusionele mandaat van 14 dae verkies word nie, kan dit ‘n ongekende krisis word:
# Die Valke gaan glo nog meer senior ANC-amptenare aankeer. Die voormalige minister van Sport, Kuns en Kultuur, Zizi Kodwa, het verlede week die eerste keer in die hof verskyn in verband met omkoopgeld van 1,6-miljoen-rand. Hy is tans op borgtog van 30-duisend-rand uit. Sowat 90 ANC-lede word in die Staatskapingskommissie se verslag by korrupsie betrek, insluitend die ANC se voorsitter, Gwede Mantashe, en eerste adjunk-sekretaris-generaal, Nomvula Mokonyane. ‘n ANC-woordvoerder, Mahlengi Bhengu-Motsiri, het aan City Press gesê hulle is nie bewus van enige arrestasies binnekort nie.
# Die Wes-Kaapse LUR vir Gemeenskapsveiligheid en Polisie-oorsig, Reagen Allen, het die moord op vier mense insluitend drie kinders in Khayelitsha veroordeel. ‘n Onbekende gewapende man het ‘n haarkapper Saterdag binnegegaan en op die mense losgebrand. Twee kinders van elf en twaalf en ‘n 30-jarige is op die toneel dood terwyl drie minderjariges gewond is. ‘n Vyfjarige seun het gisteroggend aan sy wonde beswyk. Allen sê die polisie moet elke greintjie van hulle intelligensiebronne inspan om die verdagtes op te spoor:
# Die DA in Gauteng vra ‘n onmiddellike onafhanklike forensiese ondersoek na die Gautengse Vennootskapsfonds. Dit dateer terug na toe adjunkpresident Paul Mashatile die LUR vir Menslike Nedersettings was. Verslae dui op ondeursigtige raadsaanstellings, twyfelagtige betalings aan ‘n regsfirma met bande met Mashatile, en ongerymdhede met fondsinsameling. Die woordvoerder oor Menslike Nedersettings van die DA in Gauteng, Mervyn Cirota, sê bewerings sluit in agt-miljoen-rand wat sonder ‘n kontrak aan prokureurs oorbetaal is en twyfelagtige lenings aan Mashatile se skoonseun. Cirota vra die nuwe administrasie in Gauteng om die Spesiale Ondersoekeenheid te betrek.
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Naledi Pandor, woon vandag die vergadering van BRICS-Buitelandse Sakeministers in Nizhny Novgorod in Rusland by. Die tweedaagse vergadering, met die Russiese Buitelandse Sake-minister Sergey Lavrov as voorsitter, wil konsensus bou oor verklarings en modelle. Daarby is ook die uitgebreide Buitelandse Sakeministers-vergadering waarna Rusland 15 lande genooi het. Pandor sal ook bilaterale samesprekings voer met haar eweknieë in BRICS en vennootlande.
# Tennis: Carlos Alcaraz van Spanje het Alexander Zverev geklop om sy eerste Franse Ope-titel en derde Grand Slam in te palm. Die 21-jarige het die Duitser met 6-3, 2-6, 5-7, 6-1, 6-2 uitoorlê om die jongste speler ooit te word om belangrike enkelspeltitels op al drie oppervlaktes te verower. Alcaraz wat in Parys aangekom het en drie weke lank nie weens ‘n regterarmbesering nie kompeterend gespeel het nie, het die Franse Ope-titel beskryf as sy trotste Grand Slam-oorwinning tot dusver:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-88-sent teen die dollar, 20-rand-34-sent teen die euro en 24-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-667-dollar-60-sent. Die prys van goud is twee-duisend-298-dollar-83-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-74-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….