Nuus 07:00
BULLETIN 7 Junie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa beklemtoon die belangrikheid van bestendigheid en goeie bestuur
# Al die passasiers is veilig na ‘n bomdreigement aan boord van ‘n FlySafair-vlug
# En tennis: Swiatek wil môre haar vyfde Grand Slam-titel beklink
# President Cyril Ramaphosa het die belangrikheid van bestendigheid, aanspreeklikheid, deursigtigheid, integriteit, gemeenskapsdeelname en goeie bestuur beklemtoon. Die ANC oorweeg ‘n regering van nasionale eenheid nadat hy nie ʼn volstrekte meerderheid in die algemene verkiesing kon behaal nie. Ramaphosa sê die ANC erken hulle ideologie en politiek verskil van verskeie politieke organisasies, maar hulle sal met enige party saamwerk solank dit in openbare belang is:
Die Sekretaris van die Parlement, Xolile George, prys intussen die Verkiesingskommissie se deursigtige verkiesingsproses, wat ‘n regverdige verkiesing verseker en Suid-Afrikaners bemagtig. Hy erken die effense afname in vroulike verteenwoordiging in die Nasionale Vergadering, maar bevestig weer die Parlement se verbintenis tot geslagsgelykheid. George neem verder kennis van die beduidende verteenwoordiging van jongmense in die Vergadering, wat ooreenstem met die land se demografiese verskuiwing. Hy het die voorbereidings vir die eerste sitting uiteengesit, insluitend oriënteringsessies vir nuwe lede ten einde gereedheid te verseker om demokratiese waardes te handhaaf:
# Die Suid-Afrikaanse Lughawemaatskappy, ACSA, sê die polisie se bom-eenheid is gisteraand by die Kaapstad Internasionale Lughawe ontplooi. Dit volg nadat die bemanning van ʼn FlySafair-vlug oor ʼn moontlike sekerheidsgevaar aan boord ingelig is. Die vliegtuig was op pad na Johannesburg. ACSA sê passasiers en bemanning het die vliegtuig veilig ontruim en dit is deeglik deursoek. Hy voeg by al die vereiste lugvaartveiligheid- en -sekerheidsprotokolle is nagekom.
# Die Landdroshof in Johannesburg het die eienaar van SHL Wholesalers, Suhayle Ballim, 15 jaar tronkstraf opgelê op 39 bedrogaanklagte. In die verhoor van 14 jaar is onthul Ballim het tussen 2004 en 2007 sy onderneming gebruik om bedrieglike BTW-eise van 16-miljoen-rand by die Inkomstediens in te dien. Ondanks pogings om die proses te vertraag, is Ballim in Mei 2022 skuldig bevind. Die hof het bevind Ballim het geen berou getoon nie, en het geen voorneme gehad om die geld te betaal nie. Die NVG het die vonnis verwelkom.
# Amerika se president, Joe Biden, doen ʼn beroep op die wêreld om vryheid en demokrasie te verdedig ter herinnering aan diegene wat hul lewens op D-Dag opgeoffer het. Hy het gister die 80ste herdenking van die D-Dag-landing in Normandië, Frankryk gevier. Dit is waar nege-duisend-388 lede van die Amerikaanse weermag wat daaraan deelgeneem het, begrawe is. Biden waarsku dat demokrasieë wêreldwyd weer onder druk is en voeg by dis eenvoudig ondenkbaar om voor diktators neer te buig:
# Tennis: Wêreld nommer een Iga Swiatek is goed op koers vir haar vyfde Grand Slam-titel nadat sy die Amerikaner Coco Gauff in die halfeindstryd van die Franse Open vermorsel het. Die Poolse speler het in net meer as 90 minute met 6-2, 6-4 met die derde gekeurde Gauff klaargespeel in ‘n wedstryd wat verwag is baie kompeterend sou wees. Dit het nie aan die verwagtinge voldoen nie. Die verdedigende kampioen kom te staan teen die twaalfde gekeurde Italianer Jasmine Paolini in môre se eindstryd nadat sy die Russiese tiener Mirra Andreeva, 6-3, 6-1, geklop in die tweede halfeindstryd.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-93-sent teen die dollar, 20-rand-64-sent teen die euro en 24-rand-23-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-790-dollar-91-sent. Die prys van goud is twee-duisend-371-dollar-35-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-83-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….