Nuus 07:00
BULLETIN 4 Junie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die UDM soek duidelikheid by die Verkiesingskommissie oor die toekenning van setels in die Nasionale Vergadering
# Kaapstad se rampspanne is op ‘n hoë gereedheidsgrondslag vir swaar reën en oorstromings wat verwag word
# En Donald Trump wil hê die Hooggeregshof moet ingryp in sy swyggeld-skuldigbevinding
# Die UDM het aan die uitvoerende hoof van die Verkiesingskommissie, Sy Mamabolo, geskryf vir duidelikheid oor die finale seteltoekenning in die Nasionale Vergadering. Die sekretaris-generaal Yongama Zigebe wys daarop ondanks hulle 78-duisend-391 stemme, is twee setels toegeken aan die UDM, terwyl Al Jama-ah en die National Coloured Congress elk twee setels gekry het met aansienlik minder stemme. Hy beweer die UDM behoort vier setels te hê, wat kommer wek oor die regverdigheid en akkuraatheid van die toekenningsproses.
# Die politieke ontleder, professor Richard Calland, sê die ANC wat nie ‘n volstrekte meerderheid behaal het nie, beteken ʼn groot verskuiwing in die Suid-Afrikaanse politiek. Die party se nasionale uitvoerende komitee vergader na verwagting vandag om koalisies te bespreek in wat beskryf word as moontlik die party se grootste krisis die afgelope 30 jaar. Die Verkiesingskommissie het die uitslag Sondag verklaar wat beteken die Parlement moet binne 14 dae ʼn president aanwys. Calland sê die land se politiek het nou twee paaie uitgekerf:
# Solidariteit het ʼn waarskuwing uitgereik oor die sogenaamde tweepot-stelsel en sê dit hou groot risiko’s in. President Cyril Ramaphosa het die Wysigingswetsontwerp op Inkomstewette bekragtig wat ʼn tweepot-stelsel moontlik maak. Dit gee toegang tot aftreefondse sonder dat lede hoef te bedank of die hele bedrag onttrek. Die stelsel het ten doel om kommer oor die gebrek aan bewaring voor aftrede aan te spreek. Solidariteit sê die grootste risiko is dat daar by aftrede baie minder geld beskikbaar sal wees.
# Die Stad Kaapstad se rampbestuurspanne is op hoë gereedheid geplaas nadat die Suid-Afrikaanse Weerdiens ʼn vlak-vier-waarskuwing vir vandag uitgereik het. Tien tot 20 millimeter reën word in die meeste plekke verwag, maar op sommige plekke in die Weskus-distrik kan 50 tot 60 millimeter val. Die rampbestuurspan se woordvoerder, Sonica Lategan, sê ontwrigtende reën kan in sekere gebiede tot oorstromings lei:
# Oudpresident Donald Trump vra die Hooggeregshof om sy skuldigbevinding in die swyggeldsaak tersyde te stel. Hy het verlede week die eerste Amerikaanse president geword wat aan ʼn misdaad skuldig bevind is. Dit volg nadat ʼn jurie hom skuldig bevind het op al 34 aanklagte dat hy sakerekords vervals het om tydens sy 2016-veldtog ʼn buite-egtelike verhouding te verdoesel. Die Hooggeregshof oorweeg reeds ʼn ander saak waarin Trump immuniteit van vervolging pleit oor sy optrede ná die 2020-verkiesing, toe hy na bewering by die uitslag wou inmeng.
# Rugby: Die voormalige Springboklosskakel Curwin Bosch is op pad na Frankryk. Hy verlaat die Haaie om by die Franse ProD2-klub Brive aan te sluit nadat hy sedert 2016 in Durban gespeel het. Bosch se besluit is glo geneem nadat hy deur Siya Masuku as eerstekeuse nommer 10 vervang is, asook wanneer Jordan Hendrikse volgende seisoen van die Leeus af by die Haaie aansluit. Die 26-jarige Bosch het in 2017 drie toetse vir Suid-Afrika gespeel. Die Franse klub beskryf hom as ‘n speler met breë tegniese vermoëns.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-53-sent teen die dollar, 20-rand-22-sent teen die euro en 23-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-284-dollar-79-sent. Die prys van goud is twee-duisend-347-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-85-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….