Nuus 07:00
BULLETIN 3 Junie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die verkiesingsuitslae weerspieël die wil van Suid-Afrikaners
# Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie is tevrede dat die verkiesing vry en regverdig was
# En ‘n peiling toon dat 51% Amerikaners glo dat Trump ná sy skuldigbevinding ongeskik is om president te wees
# President Cyril Ramaphosa sê die uitslag van die 2024- algemene verkiesing weerspieël die wil van die mense en moet gerespekteer word. Die ANC kon nie ‘n volstrekte meerderheid behaal nie en het nou 159 setels in die Nasionale Vergadering teenoor 230 voor die verkiesing. Die DA se setels het van 84 tot 87 toegeneem terwyl die nuwe MK-party 58 het. Ramaphosa het tydens die aankondiging van die uitslae in Midrand gesê kiesers kon deelneem aan ʼn verkiesing wat vry, regverdig en vreedsaam was:
Ramaphosa sê ook Suid-Afrikaners verwag van die partye vir wie hulle gestem het om gemeenskaplike grond te vind, hul verskille opsy te skuif en tot almal se voordeel saam te werk. Hy het gesê elke party het ná die verkiesing ʼn mandaat volgens die beloftes wat hy aan die kiesers gemaak het:
In nog verkiesingsnuus sê die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie hy het by 250 stemlokale waargeneem en die algemene verkiesing was vry en regverdig. Die ANC het sy volstrekte meerderheid na 30 jaar verloor. Die kommissie sê volgens sy voorlopige waarnemings het 83-persent van die stemlokale betyds geopen en 98-persent van die stembusse is in die teenwoordigheid van party-agente en waarnemers opgerig. Hy sê daar was baie min veiligheidsvoorvalle by stemlokale.
# ʼn CBS News-peiling toon 56-persent Amerikaners dink oudpresident Donald Trump se skuldigbevinding was regverdig. ʼn New Yorkse hof het hom skuldig bevind dat hy tydens die 2016-presidentsveldtog sakerekords vervals het om swyggeld-betalings aan die gewese porno-ster Stormy Daniels weg te steek. Een-en-vyftig-persent van die deelnemers glo hy is na sy skuldigbevinding nie geskik om president te wees nie, terwyl 45-persent sê hy moet tronk toe gaan. Trump, wat die eerste Amerikaanse president is wat aan ʼn misdaad skuldig bevind word, sal in Julie gevonnis word.
# Tennis: Die tweemalige Grand Slam-kampioen, Carlos Alcaraz, kom in die kwarteindronde van die Franse Ope teen Stefanos Tsitsipas van Griekeland te staan. Die Spanjaard het die Kanadees, Felix Auger-Aliassime, met 6-3, 6-3, 6-1 verslaan terwyl Tsitsipas die Italianer Matteo Arnaldi met 3-6, 7-6, 6-2 en 6-2 geklop het. In die vroue-afdeling het die wêreld-nommereen van Pole, Iga Swiatek, die vinnigste sege van haar loopbaan behaal toe sy die Rus, Anastasia Potapova, in 40 minute met 6-0, 6-0 verpletter het om die kwarteindronde te haal. Alcaraz sê hy sien uit na die wedstryd teen Tsitsipas:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-72-sent teen die dollar, 20-rand-33-sent teen die euro en 23-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-632-dollar-18-sent. Die prys van goud is twee-duisend-329-dollar-59-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-56-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Battery-aangedrewe lepel wat kos souter laat smaak, is in Japan te koop. Die lepel is bedoel vir mense wat hulle soutinname wil verlaag. In Japan verbruik volwassenes gemiddeld ongeveer 10-gram sout per dag, wat dubbel die aanbevole inname is. Die lepel werk deur ‘n swak elektriese stroom deur die punt van die toestel te stuur, wat natrium-ioon-molekules op die tong konsentreer. Dit laat kos een-en-‘n-half keer souter smaak. Gebruikers kan ook besluit hóé sout hulle kos moet smaak, deur een van vier vlakke van intensiteit te kies.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….