Nuus 07:00
BULLETIN 13 Augustus 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ampsklagkomitee gaan voort met sy voorbereidings
# Die dodetal ná die veerboottragedie op die Karibameer in Zimbabwe styg tot 44
# En rugby: Die Bulls-afrigter sê hulle is nie ten volle voorbereid vir die All Blacks nie
# Die parlementêre ampsklagkomitee sê hy neem kennis van die Konstitusionele Hof se beslissing wat die regstreekse aansoek vir verlof tot appèl teen die Wes-Kaapse Hooggeregshof se uitspraak oor president Cyril Ramaphosa se interdik, van die hand wys. Die African Transformation Movement het verlede maand gepoog om die hof-uitspraak tersyde te stel en ‘n parlementêre ondersoek na Ramaphosa se hantering van ‘n inbraak op sy Phala Phala-plaas in Limpopo te stop. Die ampsklagkomitee se voorsitter, Makashule Gana, sê hulle gaan voort met voorbereidingswerk:
# Business Leadership South Africa sê die Openbare Beleggingskorporasie se bestuur moet deeglik hersien word. Die Gautengse Hooggeregshof het verlede week die uitvoerende hoof, Patrick Dlamini, se skorsing nietig verklaar omdat slegs die minister van Finansies, en nie die raad nie, gesag het om dit te doen. Die Mpati-kommissie het bevind ministeriële beheer oor die raad se aanstellings was ‘n basiese oorsaak van swak besluitneming by die OBK. Busisiwe Mavuso van BLSA sê die korporasie se raad moet volle mag oor die uitvoerende gesag hê en vry wees van politieke inmenging.
# Die Kaapse Forum sê voormalige bruin militêre veterane moet oorweeg word in pogings om bendes en dwelmhandel in die Wes-Kaap te beveg. Die organisasie glo ervare voormalige soldate van die Suid-Afrikaanse Kaapse Korps kan gemeenskapsveiligheid versterk as polisiëringsmagte na die provinsie afgewentel word. Heindrich Wyngaard van die forum sê baie bruin militêre veterane sukkel steeds om toegang tot erkenning en voordele te verkry. Wyngaard vra die ontplooiing van polisiëringsmagte na die provinsie om die stryd teen misdaad te versterk.
# Die dodetal in die veerboot-tragedie op die Kariba-meer in Zimbabwe het tot 44 gestyg. ʼn Oorlaaide veerboot met 120 mense aan boord, wat kinders en vyf bemanningslede insluit, het omgeslaan nadat dit groot branders getref het. Volgens Zimbabwe se burgerlike beskermingseenheid het die boot plek vir 90 mense. Tot dusver is 77 mense gered. President Emmerson Mnangagwa het ʼn ramptoestand afgekondig terwyl soek- en reddingspogings verskerp. Die Kariba-meer teen Zimbabwe se noordelike grens met Zambië is wat volume betref die wêreld se grootste mensgemaakte meer.
# Rugby: Die Bulle-afrigter, Johan Ackermann, sê hulle sien uit na die geleentheid om Saterdag op Loftus Versfeld teen die All Blacks kragte te meet. Die Bulle moes hulle voor-seisoen verdeel om hierdie eenmalige wedstryd te speel, omdat hulle gewoonlik pas sou terugkeer van hul blaaskans tussen seisoene. Die All Blacks het die Stormers en die Haaie verslaan in hulle twee openingswedstryde van die Rugby’s Greatest Rivalry-toer. Ackermann sê hy sou graag sommige spelers wedstryd-fiks wou kry:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-13-sent teen die dollar, 18-rand-59-sent teen die euro en 21-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-382-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-426-dollar-30-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 90-dollar-49-sent per vat.
# En ten slotte: Singapoer en Suid-Korea het die Amerikaanse kruidenierswinkel Trader Joe se gewilde Everything But the Bagel-geurmiddels van aanlyn platforms verwyder omdat dit papawersaad bevat. Die sade kan gedurende die oes met opiate besmet word. Albei lande het ‘n streng beleid oor beheerde dwelms. Suid-Koreaanse toetse het glo morfien en kodeïen in die produk gevind. Singapoer het meer as 20 aanlyn inskrywings verwyder en mense wat die geurmiddels het, aangemoedig om daarvan ontslae te raak. Amptenare waarsku produkte wat wettig oorsee verkoop word, kan as beheerde stowwe of verbode invoere in ander lande geklassifiseer word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….