Nuus 07:00
BULLETIN 29 Julie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa ontken bewerings van spesiale behandeling vir minister Mchunu
# Die GOOD-party dring daarop aan dat Mbeki die WVK-vervolgingsmislukkings moet verduidelik
# En Donald Trump weerspreek Benjamin Netanyahu oor die hongersnoodkrisis in Gaza
# President Cyril Ramaphosa ontken bewerings dat sy besluit om die minister van Polisie, Senzo Mchunu, op spesiale verlof te plaas eerder as af te dank op spesiale behandeling neerkom. Hy het dokumente by die Konstitusionele Hof ingedien in reaksie op ‘n dringende aansoek deur die MK-party en sy leier, Jacob Zuma. Die aansoek verklaar Ramaphosa se besluit as irrasioneel en teenstrydig. Ramaphosa sê sy mag om ministers aan te stel en af te dank, sluit diskresie in om hulle op spesiale verlof te plaas, veral onder omstandighede wat ʼn onpartydige ondersoek vereis.
# Die GOOD-party sê voormalige president Thabo Mbeki moet rekenskap gee oor die staat se versuim om apartheidsera-misdade te vervolg soos aanbeveel deur die Waarheids-en-Versoeningskommissie. Dit volg ná Mbeki se poging om by ‘n hofsaak aan te sluit wat slagoffers se families teen die regering aanhangig gemaak het. GOOD se sekretaris-generaal Brett Herron sê as Mbeki onskuldig is aan politieke inmenging, kan hy steeds skuldig wees aan die versuim om op te tree:
# Die adjunkminister van Vervoer, Mkhuleko Hlengwa, sê die vervoersektor is noodsaaklik vir die werking van die samelewing, maar dit sluit mense uit voorheen benadeelde agtergronde, vroue en die jeug uit. Volgens verslae van die kommissie vir breed-gebaseerde swart ekonomiese bemagtiging was slegs 38,8-persent vervoer- en logistieke ondernemings in 2022 in swart besit teenoor 48,6-persent in 2019. Hlengwa sê die regering is verbind tot ʼn hervormingsproses om die sektor te laat herleef en terselfdertyd by te dra tot die maatskaplike noodsaaklikheid om die samelewing te hervorm.
# Die Nasionale Mynwerkersunie sê die voortgesette waterkrisis in die Matjhabeng Plaaslike Munisipaliteit in die Vrystaat plaas die gesondheid en veiligheid van mynwerkers en omliggende gemeenskappe in ernstige gevaar. Die vakbond sê werkers word gedwing om klein botteltjies water in die ou myne af te neem om dan vir langer as agt ure sonder voldoende water ondergronds te wees, wat produktiwiteit beïnvloed. Tetee Mohale van die vakbond sê inwoners in nabygeleë mynhostelle sukkel ook om skoon water te kry:
# President Donald Trump van Amerika stem nie saam met Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, dat daar geen hongersnood in Gaza is nie. Die Wêreldgesondheidsorganisasie waarsku wanvoeding in die gebied neem kommerwekkende afmetings aan. Trump, wat veral Hamas blameer vir die vertraging om hulp onder burgerlikes in Gaza te versprei, erken Israel het ook ʼn aandeel aan beperkte hulp aan die streek. Hy sê die voortslepende hongersnood en wanvoeding moet onmiddellik aandag kry:
# Rugby: Die hoofafrigter van die Britse en Ierse Leeus, Andy Farrell, sê hulle wil skoonskip maak in die toetsreeks teen die Wallabies nadat hulle reeds hulle eerste reeksoorwinning sedert 2013 beklink het. Hy sê hulle plan sal nie verander nie al het hulle reeds ‘n onaanvegbare voorsprong danksy Saterdag se oorwinning in die tweede toets in Melbourne. Farrell glo sy spelers het reeds genoeg gedoen om as Leeus-legendes bestempel te word. Hulle het tot dusver al agt hulle wedstyde gewen. Die laaste toets word Saterdag in Sydney gespeel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-88-sent teen die dollar, 20-rand-74-sent teen die euro en 23-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-251-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-315-dollar-36-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 69-dollar-34-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….