Nuus 07:00
BULLETIN 31 Mei 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Met 50-persent van die stemme getel, bly die ANC op 42-persent nasionaal
# Meer as 50 verdagtes is gearresteer vir verkiesingsverwante misdade
# En Donald Trump verwerp sy skuldigbevinding as ‘n skande
# Met net meer as 50-persent van die stemme getel, is die ANC nasionaal steeds voor met 42,34-persent. Die DA is tans tweede met 23,39-persent en die MK-party derde met 10,77-persent. In Gauteng loop die ANC voor met 32,21-persent, gevolg deur die DA met 29,31-persent en die EFF met 12,84-persent. In die erg betwiste KwaZulu-Natal is MK op 44,86-persent, die ANC tweede met 18,94-persent en die IVP op 17,42-persent. In die Wes-Kaap loop die DA voor met 54,63-persent van die stemme, gevolg deur die ANC met 18,83-persent en die Patriotic Alliance met 9,32-persent.
Die polisie het intussen sedert Maandag 58 mense landwyd in hegtenis geneem en 98 dossiere oopgemaak vir misdade wat met die verkiesing verband hou. Volgens die Nasionale Gesamentlike Operasionele en Intelligensiestruktuur is 29 verdagtes Maandag en Dinsdag tydens die spesiale stemdae vasgetrek en altesaam 29 is Woensdag op stemdag gearresteer. NATJOINTS se medevoorsitter, Tebello Mosikili, sê die meeste inhegtenisnemings was in Gauteng en die Oos-Kaap:
# Cosatu het die monetêre beleidskomitee van die Reserwebank se besluit verwelkom om die terugkoopkoers onveranderd te hou op 8,25-persent. Dit is die sesde keer dat die bank besluit om nié die koers te verhoog nie. Die bank verwag nou dat inflasie in die tweede kwartaal van 2025 na die middelpunt van sy drie-tot-ses-persent-teikenband sal terugkeer. Matthew Parks van Cosatu sê dié besluit bring verligting vir miljoene werkers:
# Die Amerikaanse oudpresident Donald Trump beskryf sy skuldigbevinding op 34 aanklagte dat hy sakerekords vervals het, as ‘n skande. ʼn Manhattan-jurie het hom skuldig bevind dat hy swyggeld betaal het om die uitslag van die 2016-verkiesing te beïnvloed. Trump beweer die verhoor is gemanipuleer en die ware uitslag sal op 5 November by die stembus bekend word. President Joe Biden sê die beslissing wys niemand is bo die wet verhewe nie en Trump het altyd gedink hy gaan nie die gevolge dra as hy die wet oortree nie.
# Krieket: Die Protea-kaptein Aiden Markram sê die kern-spelers in die huidige nasionale groep kan oor die volgende paar jaar met meer oorwinnings spog. Die Proteas se mikpunt is om die land se eerste groot, senior wêreldtitel by die T20-wêreldbeker te buit wat die naweek met ʼn kragmeting tussen Amerika en die Wes-Indiese Eilande begin. Suid-Afrika kon net twee van hulle laaste 13 T20-toetswedstryde wen. Markram erken hulle sal alles moet uithaal om die Wêreldbeker omhoog te hou.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-72-sent teen die dollar, 20-rand-27-sent teen die euro en 23-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-621-dollar-70-sent. Die prys van goud is twee-duisend-346-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-64-sent per vat.
# En ten slotte: Suid-Afrikaners word aangemoedig om deel te neem aan Pantoffeldag en so ʼn verskil te maak in die lewens van kinders wat teen lewensgevaarlike siektes veg. Alle fondse wat ingesamel word, gaan aan die Reik na ʼn Droom-stigting. Vanjaar se tema is Step into My Slippers, en fokus op empatie, pret en om in die skoene te staan van kinders met lewensgevaarlike siektes. Zapper se bemarkingshoof, Stephen Smith, sê hulle werk saam met Reik na ʼn Droom en mense kan nou die Pantoffeldag-plakker van 20-rand deur die Zapper-toepassing koop:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….