Nuus 07:00
BULLETIN 30 Mei 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Vroeë uitslae toon die MK-party vaar goed in KwaZulu-Natal
# John Steenhuisen sê hy is bekommerd oor die kwessies wat die kiesers in die steek gelaat het
# En die jurielede in Trump se strafsaak het begin beraadslaag
# Die eerste uitslae uit suidelike KwaZulu-Natal is in. Dis die deel van die provinsie waar die ANC die sterkste is. In Umzimkhulu het die ANC 50-persent van die stemme gekry, gevolg deur die MK-party met 39-persent. In eDumbe het die IVP 60-persent stemme gekry, gevolg deur MK en dan die Abantu Batho Congress. In Msunduzi het MK 49-persent stemme gekry, die ANC het 21-persent en die DA is derde met 15-persent. Die politieke ontleder, Daniel Silke, voorspel die MK-party gaan ANC-ondersteuning ‘n knou gee:
# Die DA-leier John Steenhuisen sê hy is diep bekommerd oor die frustrasies wat veroorsaak is deur kwessies soos kieserbestuur-toerusting, tekort aan stembriewe, lang toue en ander probleme met die Verkiesingskommissie se stelsels. Ten spyte van groot probleme gister op verkiesingsdag, gaan stemtellery voort by stemlokale reg oor die land. Steenhuisen sê hy is egter bemoedig deur die miljoene Suid-Afrikaners wat opgedaag het om hul reg om te stem uit te oefen.
# Die minister van Justisie en Korrektiewe Dienste, Ronald Lamola, sê gevangenes wat mag stem dui op die vooruitgang van Suid-Afrika se demokrasie. Meer as 17-duisend gevonnisde gevangenes was geregistreer om te stem. Lamola sê in Gauteng kon vier-duisend-879 gevangenes stem en meer as die helfte was van die Kgosi Mampuru-gevangenis:
# Die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie, Sadou, het sy meegevoel betuig met die gesinne van tien onderwysers wat Dinsdag dood is in ‘n trompop-botsing op die R521 Dendron-pad naby Polokwane in Limpopo. Die vakbond se hoofsekretaris, Mugwena Maluleke, sê die slagoffers, agt vroue en twee mans, was vakbondlede. Maluleke benadruk die impak van die onderwysers se dood te midde van die eksamens en vra vir psigososiale ondersteuning vir leerders en kollegas. Sadou vra ook vir ‘n deeglike ondersoek na die voorval.
# Die 12 jurielede in Donald Trump se swyggeld-verhoor het begin om te beraadslaag. Die voormalige Amerikaanse president staan tereg op 34 aanklagte dat hy voor die 2016-verkiesing sakerekords vervals het om swyggeld aan ʼn gewese porno-ster, Stormy Daniels, te betaal. ʼn New Yorkse hof het oor ʼn tydperk van ses weke 22 getuies aangehoor wat Daniels en Trump se destydse prokureur, Michael Cohen, insluit. Die sewe mans en vyf vroue in die jurie se besluit moet eenparig wees. Trump pleit onskuldig op alle aanklagte.
# Boks: Oleksandr Usyk gaan Tyson Fury in ‘n herontmoeting op 21 Desember in Riyadh, Saoedi-Arabië, die stryd aansê, na hy hulle onbetwiste swaargewig-geveg vroeër die maand gewen het. Die onoorwonne bokser van Oekraïne het in ‘n verdeelde beslissing teen Fury van Brittanje gewen in die eerste unifikasie-geveg van die vier-belt-era. Die 37-jarige Usyk, wat ‘n ruk lank as ‘n soldaat ná die Russiese inval geveg het, is ook die onbetwiste kampioen in die ligswaargewig-afdeling en het as ‘n amateur medaljes by die Olimpiese Spele, die wêreld- en Europese kampioenskappe verower.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-45-sent teen die dollar, 19-rand-93-sent teen die euro en 23-rand-43-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-908-dollar-21-sent. Die prys van goud is twee-duisend-334-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-47-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….