Nuus 07:00
BULLETIN 28 Mei 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Verkiesingskommissie waarsku teen vals inligting voor die verkiesing
# Solidariteit nader die howe om die NGV-wet ongrondwetlik te laat verklaar
# En die slotbetoë in Trump se swyggeld-verhoor begin
# Die Verkiesingskommissie het kiesers gewaarsku om waaksaam te wees teen waninligting wat voor die verkiesing die ronde doen. Die kommissie het tydens ‘n nuuskonferensie video’s wat onduidelike stembriewe uitbeeld, bespreek en verduidelik dit het nie betrekking op die Suid-Afrikaanse verkiesing nie. Die adjunk-hoofverkiesingsbeampte, Masego Sheburi, het verseker alle stemme, insluitend spesiale stemme, sal vanaf Woensdag en in die teenwoordigheid van party-agente met deursigtigheid getel word om verkiesingsintegriteit te verseker:
# Die IVP sê hy is bekommerd oor die veiligheid van sy KwaZulu-Natalse voorsitter en premierskandidaat, Thami Ntuli. Die party sê vier gewapende individue het hul Sondag voorgedoen as wetstoepassers en Ntuli se konvooi op die N2 onderweg na Richardsbaai voorgekeer. Hy was op pad huis toe ná ‘n verkiesingsgeleentheid. Die vier het polisie-oorpakke gedra en balaklawas opgehad om hul identiteit te beskerm toe hulle die konvooi voorgekeer het. Die IVP doen ʼn beroep op wetstoepassingsagentskappe om die voorval deeglik te ondersoek.
# Solidariteit het die Noord-Gautengse Hooggeregshof gevra om die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering ongrondwetlik en ongeldig te verklaar. President Cyril Ramaphosa het die wet vroeër die maand bekragtig te midde van ernstige kritiek deur politieke partye en burgerlike organisasies. Die NGV se doel is om universele toegang tot gehalte- mediese sorg aan alle Suid-Afrikaners te bied. Connie Mulder van Solidariteit sê die wet is tegnies vol foute:
AfriForum het intussen regsoptrede bespreek teen die NGV op ‘n gesamentlike spitsberaad wat aangebied is deur Solidariteit. Die veldtogbeampte Louis Boshoff sê verteenwoordigers van verskeie organisasies en opposisiepartye, onder wie die Vryemarkstigting en die Vryheidsfront Plus, was daar. Boshoff sê die beraad het regstrategieë bespreek teen die NGV. Hy is optimisties die wet sal omgekeer word ondanks ‘n verwagte uitgerekte regstryd:
# Slotbetoë begin vandag in die voormalige Amerikaanse president Donald Trump se swyggeld-verhoor in New York. Hy word aangekla van beweerde vervalste sakerekords om ‘n betaling te verdoesel aan die pornografie-ster Stormy Daniels om stil te bly oor hulle beweerde seksuele onderonsie. Die betaling van amper 2,4-miljoen-rand is gemaak tydens Trump se verkiesingsveldtog in 2016. Daniels, wie se regte naam Stephanie Clifford is, het tydens die verhoor getuig hulle het in 2006 ontmoet in Trump se hotelkamer in Lake Tahoe. Hy ontken dit.
# Motorsport: Alpine Formule Een se hoof, Bruno Famin, oorweeg volgens berigte om Esteban Ocon te onttrek aan volgende naweek se Kanadese Grand Prix. Dit volg nadat Ocon teen sy spanmaat Pierre Gasly gebots het in die eerste ronde van die Monaco Grand Prix. Ocon het nie verder gejaag tydens die rooivlag-tydperk nie, maar Gasly het voortgegaan, tiende geëindig en sy eerste punt van die seisoen verdien. Baanbeamptes het Ocon met vyf plekke gestraf op die wegspringrooster vir die Kanadese Grand Prix. Famin sê hulle gaan ʼn moeilike besluit moet neem.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-36-sent teen die dollar, 19-rand-97-sent teen die euro en 23-rand-47-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-601-dollar-69-sent. Die prys van goud is twee-duisend-353-dollar-31-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-94-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….