Nuus 07:00
BULLETIN 12 Augustus 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlement betwis Fadiel Adams se bewering oor ‘n foutiewe skootrekenaar
# Solidariteit waarsku die nuwe BELA-reëls verswak skoolbeheerliggame
# En rugby: Die All Blacks verniel die Haaie
# Die Parlement verwerp die National Coloured Congress-leier, Fadiel Adams, se bewering dat skootrekenaar-probleme sy vertraagde reaksie op die Madlanga-kommissie veroorsaak het. Hy beweer hy kon nie op ‘n amptelike kennisgewing reageer nie weens ʼn probleem met sy skootrekenaar wat deur die Parlement uitgereik is. Volgens die kennisgewing moes hy vrae beantwoord oor strafregtelike klagtes wat hy teen die Misdaadintelligensie-hoof, Dumisani Khumalo, en ander hooggeplaaste amptenare ingedien het. Die parlementêre woordvoerder, Moloto Mothapo, sê hulle het ná Adams se bewerings die dienstoonbank se rekords nagegaan:
# Die vakbond Solidariteit sê drie nuwe konsepregulasies ingevolge die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette kan die onafhanklikheid van openbare skole verminder. Die vakbond sê die regulasies kan provinsiale onderwysamptenare groter beheer gee oor skoolbeheerliggame, onderwyserontwikkeling en personeelbetalings. Johnell Prinsloo van Solidariteit sê skole het meer buigsaamheid nodig om besluite oor hul eie behoeftes te neem. Prinsloo sê die vakbond sal kommentaar oor die regulasies indien en spoor ouers en skoolgemeenskappe aan om ook aan die openbare konsultasieproses deel te neem.
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge vra die Parlement om die Nasionale Waterwysigingswetsontwerp te skrap en waarsku dit kan landbou benadeel, die ekonomie verswak en voedselsekerheid bedreig. Volgens die organisasie kan die wetsontwerp beleggings ontmoedig, ekonomiese groei vertraag en werkloosheid verhoog. Anthea Jeffery van die instituut sê veilige eiendomsregte op grond en water is noodsaaklik vir suksesvolle landbou. Jeffery voer aan die regering moet fokus op die ondersteuning van meer kommersiële boere in plaas daarvan om wetgewing in te stel wat die sektor kan ondermyn.
# Die pas aangestelde Noordwes-polisiekommissaris, Arthur Adams, sê die monitering van gelisensieerde myn-persele moet verskerp word. Dit volg nadat 14 vermeende onwettige myners dood en talle ander gister beseer is ʼn rotsstorting by ʼn verlate mynskag in Nkaneng naby Rustenburg. Adams sê die polisie sal voortgaan om saam met die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag te werk in die stryd teen onwettige mynbase en om onwettige mynbedrywighede te bekamp:
# Die Wêreldgesondheidsorganisasie sê hy verskerp sy reaksie op die Ebola-uitbreking in die Demokratiese Republiek die Kongo. Vier-duisend-381 bevestigde gevalle is aangemeld en twee-duisend-en-11 mense is aan die virus dood. Die middelpunt van hierdie uitbreking van die Bundibugyo-spesie van Ebola is in die ooste van die DRK waar onsekerheid pogings om dit te beheer, belemmer. Die WGO se streekdirekteur vir Afrika, Mohamed Yakub Janabias, sê die dodetal styg omdat mense te laat behandeling soek:
# Rugby: Die All Blacks het die Haaie op ʼn nat en koue Kingspark in Durban met 54-0 afgeransel om agtereenvolgende oorwinnings in Suid-Afrika te behaal ná verlede week se sege teen die Stormers. Fehi Fineanganofo het twee van Nieu-Seeland se agt drieë gedruk, terwyl Jordie Barrett, Damian McKenzie en Caleb Clarke ook drieë bygedra het. Die All Blacks se volgende kragmeting in die Rugby’s Greatest Rivalry-toer is Saterdag teen die Bulle in Pretoria, voor volgende naweek se eerste toets teen die Springbokke op Ellispark.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-18-sent teen die dollar, 18-rand-67-sent teen die euro en 21-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-788-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-396-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 92-dollar-13-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….