Nuus 07:00
BULLETIN 21 Mei 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa en die president van die Europese Raad bespreek streeks- en wêreldkwessies
# Die Regterlike Dienskommissie sal vandag ‘n onderhoud voer met Mandisa Maya om die land se eerste vroulike hoofregter te word
# En dit is Kinderbeskermingsweek met die klem op aanneming- en pleegsorgkeuses
# President Cyril Ramaphosa en die Europese Raad se president, Charles Michel, het ‘n bilaterale telefoongesprek gehad om globale en streekskwessies te bespreek. Suid-Afrika het ʼn sterk strategiese vennootskap met die Europese Unie. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê die twee het weer die belangrikheid van Suid-Afrikaanse en Europese betrokkenheid bevestig om uitdagings aan te spreek wat wêreldvrede en -sekerheid betref, en die belangrikheid van respek vir internasionale reg herbevestig:
# President Cyril Ramaphosa se plaas in Limpopo, Phala Phala, is na wat berig word besig met ‘n terugbetaling van nagenoeg agt-miljoen-rand aan die Soedanese sakeman Hazim Mustafa, wat hy in 2019 in ‘n buffeltransaksie betaal het. Dit was die dollarnote wat na bewering gesteel is waar dit in ‘n rusbank weggesteek was. Daar is later gesê die buffels was nie goeie teeldiere nie, terwyl die Inkomstediens geen rekord kon vind dat Mustafa die kontant verklaar het toe hy die land ingekom het nie. Ramaphosa het gister ontken die skandaal het hom ernstig laat oorweeg om te bedank.
# Die Regterlike Dienskommissie voer vandag ʼn onderhoud met adjunkhoofregter Mandisa Maya om moontlik Suid-Afrika se volgende hoofregter te word. Die huidige hoofregter, Raymond Zondo, maak gereed om in die komende maande af te tree wanneer sy termyn van 12-jaar as regter in die Konstitusionele Hof in Augustus verstryk. Sy is die enigste kandidaat met wie ʼn onderhoud gevoer word om moontlik op een September by Zondo oor te neem. Indien Maya aangestel word, sal sy die eerste vrou wees wat die amp beklee.
# RISE Mzansi in Gauteng sê premier Panyaza Lesufi en die LUR vir Maatskaplike Ontwikkeling, Mbali Hlophe, se besluit om ná maande van onsekerheid nou kontrakte toe te ken aan organisasies sonder winsbejag, moenie gevier word nie. Lesufi het onlangs met organisasies vergader en beloof om die begrotingsbesnoeiing van 223-miljoen-rand om te keer en uitbetalings te bespoedig. RISE Mzansi se provinsiale sameroeper, Tebogo Moalusi, sê dis nie die eerste keer dat Lesufi aan hierdie organisasies beloftes maak nie:
# Atletiek: Die Suid-Afrikaanse middelafstandatleet Prudence Sekgodiso sê sy wil deurdring na die eindronde van die 800-meter op die Olimpiese Spele in Parys. Sy erken sy het haarself verras toe sy die item Sondag gewen het op die Diamantligabyeenkoms in Marrakesj, Marokko, in die vinnigste tyd vanjaar. Die 22-jarige Sekgodiso sê sy het nie verwag om so vinnig te hardloop nie. Sy het haar beste persoonlike tyd met 39 sekondes verbeter tot een-minuut-57,26-sekondes. Dit was die eerste Diamantligaoorwinning van haar loopbaan.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-20-sent teen die dollar, 19-rand-76-sent teen die euro en 23-rand-13-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-967-dollar-40-sent. Die prys van goud is twee-duisend-417-dollar-63-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-31-sent per vat.
# En om mee af te sluit: Die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling moedig Suid-Afrikaners tydens Kinderbeskermingsweek aan om aanneming en pleegsorg as keuses te oorweeg as hulle nie vir hulle kinders kan sorg nie. Die maatreëls verseker kinders bly in gesinsomgewings. Die departement sê aanneming beskerm kwesbare kinders teen institusionalisering. Die Grondwet gee ook die regering opdrag om alternatiewe sorg te voorsien. Die veldtog wil bewustheid verhoog en moontlike aanneemouers werf, met die klem op verhoogde begrip van aanneemdienste.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….