Nuus 07:00
BULLETIN 17 Mei 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Fitch Solutions waarsku teen ‘n ANC-EFF-koalisie
# Die AfriForum-direksie onderneem om die Nasionale Gesondheidsversekeringswet te beveg
# En padwedlope: Die eerste afsnypunt van die Comrades-marathon word verwyder ná talle versoeke
# Fitch Solutions se navorsingsafdeling, BMI, waarsku ‘n ANC-EFF-koalisie sal waarskynlik ʼn nadelige uitwerking op markte hê en die opbrengste van aandele en die rand negatief beïnvloed. Meningspeilings toon die ANC kan op 29 Mei minder as 50-persent stemme kry en sal met ʼn kleiner party ʼn koalisie moet vorm om nasionaal aan bewind te bly. BMI het drie alternatiewe moontlikhede uitgewys: die ANC wen met ʼn geringe meerderheid, ʼn ANC-EFF-koalisie, of ʼn oorwinning vir die Veelpartyhandves.
# AfriForum se raad van direkteure het onderneem om die Nasionale Gesondheidsversekeringwet met ‘n regstryd te beveg totdat alle middele uitgeput is. Die organisasie beplan om ‘n saak aanhangig te maak en dit meedoënloos na te volg met die gesondheidsvryheid van Suid-Afrikaners as ‘n beginselsaak. Die veldtogbeampte van AfriForum Louis Boshoff beklemtoon die organisasie se vasberadenheid en kritiseer president Cyril Ramaphosa se hantering van die wet:
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik se inisiatief, JoburgCAN, sê die raad se onvermoë om die Stad Johannesburg se begroting van 83-miljard-rand goed te keur, sal ernstige gevolge hê. Altesaam 188 raadslede was teenwoordig, 105 het ten gunste van die begroting gestem en 52 daarteen. Die res het nie gestem nie of buite stemming gebly. JoburgCAN se bestuurder, Julia Fish, sê dis duidelik die begroting sal nie in sy huidige vorm aanvaar word nie:
# Gemeenskappe aan die Wildekus, gesteun deur organisasies soos The Green Connection, sal in die Appèlhof in Bloemfontein verskyn om ‘n uitspraak te bevestig wat Shell se ontginningsregte vir olie en gas nietig verklaar. Die appèl, gelei deur Shell en die minister van Minerale Bronne en Energie, Gwede Mantashe, onderstreep die prioritisering van korporatiewe belange bo gemeenskapsregte. Die Oos-Kaapse Hooggeregshof in Makhanda het bevind daar was onvoldoende konsultasie met gemeenskappe en het die belangrikheid beklemtoon van die beskerming van die omgewings- en kultuurerfenis.
# ʼn Man is aangekla van die poging tot moord op die Slowaakse eerste minister, Robert Fico. Hy is Woensdag vyf keer geskiet in wat beskryf word as ʼn polities gemotiveerde sluipmoordaanval. Die Ministerie van Binnelandse Sake sê die 71-jarige verdagte het alleen opgetree en het voorheen deelgeneem aan betogings teen die regering. Fico is in ʼn ernstige maar bestendige toestand in die hospitaal. Die verkose president, Peter Pellegrini, het gepleit vir eenheid en dat mense hulle emosies in toom sal hou.
# Padwedlope: Die organiseerders van die Comradesmarathon het ingestem om die eerste afsnypunt by St Johnslaan in Pinetown te verwyder. Hulle het talle versoeke ontvang weens die tyd wat dit duur om oor die wegspringstreep te kom, met die padwerke in Sherwood wat die atlete dwing om hulle tempo in die eerste helfte van die wedloop aan te pas. Vanjaar se op-marathon van Durban na Pietermaritzburg op die negende van volgende maand beteken aanhoudende opdraendes oor die eerste 38 kilometer, wat beteken atlete moet stadiger wegspring om energie te spaar.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-21-sent teen die dollar, 19-rand-78-sent teen die euro en 23-rand-6-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-221-dollar-87-sent. Die prys van goud is twee-duisend-377-dollar-32-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-56-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….