Nuus 07:00
BULLETIN 13 Mei 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Zikalala sal vandag die rampterrein in George beoordeel
# Die gekose komitee oor Samewerkende Regering en Tradisionele Sake aanvaar die Waterhulpbronwetsontwerp
# En Donald Trump se voormalige prokureur gaan in sy swyggeld-verhoor getuig
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Sihle Zikalala, besoek vandag die terrein in George in die Wes-Kaap waar die gebou ineengestort het. Twintig konstruksiewerkers is dood terwyl 32 nog onder die puin vasgekeer is. Die minister lei ‘n afvaardiging van beroepspersone uit die bou-omgewing asook senior hoofde van die Boubedryf-ontwikkelingsraad en die Raad vir die Bou-omgewing. Zikalala sê hulle wil vasstel of regulasies nagekom is en of professionele wangedrag ter sprake was.
# Die vakbondfederasie Saftu sê Shell se beplande onttrekking uit Suid-Afrika se kleinhandelmark vir vloeibare brandstof is ‘n wekroep vir die regering om uiteindelik aan te dring op die vervaardiging en verspreiding van elektriese voertuie. Maar, hulle maak staat op die privaatsektor om dit te doen. Saftu se woordvoerder, Trevor Shaku, sê die regering se rol is tans gerelegeer tot die skepping van ‘n vrugbare omgewing vir kapitalisme om multi-nasionale motorvervaardigers aan te spoor:
# Die gekose komitee van die Parlement oor Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Water en Sanitasie en Menslike Nedersettings het eenparig die Wetsontwerp op Nasionale Waterbron-infrastruktuur-agentskap aanvaar. Dit wil ‘n volhoubare, billike en betroubare voorraad water verseker deur die nasionale waterbronne-infrastruktuur, terwyl grondwetlike vereistes nagekom word. Die voorsitter van die komitee, China Dodovu, sê hulle steun is gegrond op die geloof dat die agentskap ‘n uitwerking sal hê op mense se lewens deur die voorsiening van water te verseker deur infrastruktuur te skep.
# Die EFF eis aanspreeklikheid nadat ʼn vyfjarige seun in Soshanguve, noord van Pretoria, koelbloedig vermoor is. Ditebogo Junior Phalane is Vrydag tydens ʼn kaping buite sy huis geskiet en later in die hospitaal dood. ʼn EFF-woordvoerder, Mbuyiseni Ndlozi, wat die seun se gesin besoek en met die polisie beraadslaag het, sê die polisie moet meer doen om gemeenskappe te beskerm:
# Oudpresident Donald Trump van Amerika se swyggeld-verhoor bereik vandag ʼn keerpunt wanneer sy voormalige prokureur, Michael Cohen, in New York getuig. Cohen het na bewering in opdrag van Trump in die weke voor die 2016-verkiesing ʼn betaling aan die gewese porno-ster, Stormy Daniels, gemaak. Dit was om haar stilswye te koop oor haar vermeende seksuele ontmoeting met die oudpresident. Hy sal getuig dat Trump hom terugbetaal het, maar die rekords vervals het om voor te gee die betalings is regsuitgawes.
# Tennis: Alejandro Tabilo van Chili het die grootste oorwinning van sy loopbaan behaal toe hy die wêreld-nommereen, Novak Djokovic van Serwië, by die Italiaanse Ope in Rome verslaan het. Die 26-jarige Tabilo het die sesmalige kampioen in die derde ronde met 6-2 en 6-3 geklop. Hy speel volgende teen die 16de gekeurde Karen Khachanov van Rusland wat die Argentyn Francisco Cerundolo met 6-2 en 6-4 afgeransel het. Die Bulgaar Grigor Dimitrov en Taylor Fritz van Amerika is ook deur na die vierde ronde. Tabilo sê hy het voor die wedstryd teen Djokovic geen verwagtings gehad nie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-43-sent teen die dollar, 19-rand-85-sent teen die euro en 23-rand-8-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-44-dollar-66-sent. Die prys van goud is twee-duisend-358-dollar-87-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-45-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….