Nuus 07:00
BULLETIN 11 Augustus 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Misdaadontleder sê Fadiel Adams se getuienis voor die Madlanga-kommissie is belangrik
# Iran sê die VSA moet aan voorwaardes voldoen voor die heropening van die Straat van Hormoes
# En rugby: Die veteraan Deon Fourie word teruggeroep vir die reeks teen die All Blacks
# Die misdaadontleder, Chris de Kock, sê die National Coloured Congress-leier, Fadiel Adams, se getuienis vandag voor die Madlanga-kommissie is baie belangrik. Hy sal na verwagting moeilike vrae moet antwoord oor die ongemagtigde bekendmaking van geklassifiseerde staatsdokumente. Daar is ook bewerings teen hom dat owerhede aanvegbare inligting van hom gebruik het om senior beamptes van misdaadintelligensie te vervolg. De Kock het aan die Sowetan gesê Adams se getuienis sal bepaal of hy gebruik is, of deel was van diegene wat georkestreerde aanvalle op senior beamptes uitgevoer het.
Intussen is die Forum for South Africa bekommerd oor bewerings dat vertroulike Misdaadintelligensie-inligting met Parlementslede gedeel is. Staatsadvokaat Drushantha Ramsamy van die Ondersoekdirektoraat Teen Korrupsie het by die Madlanga-kommissie beweer Dereleen James van ActionSA het uiters geheime Misdaadintelligensie-dokumente ontvang wat onder die deur van haar parlementêre kantoor ingeskuif is. Sy het dit ontken. Die forum se leier, Tebogo Mashilompane, sê die deel van vertroulike inligting ondermyn die publiek se vertroue in die land se wetstoepassings- en toesighoudende instellings:
# Die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party sê die toenemende vlakke van gewelddadige en georganiseerde misdaad dui op ‘n dieper krisis in die land se veiligheidsargitektuur, veral die Suid-Afrikaanse Polisiediens. Oor die naweek is elf mense in drie afsonderlike voorvalle in die Wes-Kaap doodgeskiet, terwyl vier mense, insluitend twee beamptes van die polisie se Teen-bende-eenheid, in Reigerpark, Boksburg, vermoor is. Die SAKP sê misdaadnetwerke word net sterker, terwyl die instellings wat verantwoordelik is vir die voorkoming en bestryding van georganiseerde misdaad deur politieke elemente verswak en in faksies verdeel word.
# ANC Gauteng se woordvoerder en lid van die provinsiale wetgewer, die 54-jarige Mzikayifane Elias Khumalo, bekend as Mzi, is dood nadat hy gister in die vroeë oggendure na die hospitaal gehaas is. Khumalo het verskeie ampte in sy politieke loopbaan beklee, onder meer dié van LUR vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake voor die verkiesing in Mei 2024. Hy was ook ANC-hoofsweep in die wetgewer. Gauteng se premier en die ANC se provinsiale sameroeper, Panyaza Lesufi, sê Khumalo was ‘n toegewyde dienaar:
# Iran sê die ooreenkoms met Oman om die Straat van Hormoes te beheer is nie genoeg om die belangrike seestraat te heropen nie, en Amerika moet eers ʼn lys voorwaardes nakom. Dit sluit in ʼn einde aan die Amerikaanse vloot se blokkade van Iranse hawens, die onttrekking van militêre magte uit die omgewing van Teheran en ʼn permanente einde aan die oorlog. Iran se minister van Buitelandse Sake, Abbas Araghchi, sê as Amerika nie sy skending van die memorandum van verstandhouding aanspreek nie, sien hulle geen moontlikheid dat onderhandelings hervat nie.
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus het die ervare veelsydige voorspeler, Deon Fourie, by die nasionale groep ingesluit vir die komende Rugby’s Greatest Rivalry-reeks teen die All Blacks. Die 39-jarige Fourie wat sy plek as losvoorspeler en haker kan vol staan, het laas vir die Bokke uitgedraf in die 2023 Wêreldbeker-eindstryd teen Nieu-Seeland in Parys. Hy was weens beserings lank op die kantlyn, maar het verlede Vrydag geskitter in die Stormers se 38-21-nederlaag teen die All Blacks in Kaapstad.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-18-sent teen die dollar, 18-rand-68-sent teen die euro en 21-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-986-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-415-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 90-dollar-58-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….