Nuus 07:00
BULLETIN 26 Junie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Lindiwe Zulu vra vir Afrika-eenheid by die ANC se bevrydingsbewegingsberaad
# Ford herroep duisende voertuie landswyd oor veiligheidsrisiko’s
# En krieket: Nieu-Seeland is die gunsteling in die drie-nasie-eindstryd teen die Proteas in Zimbabwe
# Lindiwe Zulu van die ANC het Afrika se bevrydingsleiers aangemoedig om vorige oorwinnings te verdedig en te verenig vir sosio-ekonomiese vooruitgang. Zulu het by die ANC se Bevrydingsbewegings-beraad gevra vir geïntegreerde ontwikkeling en solidariteit te verstewig te midde van verhoogde globale uitdagings. Sy het aan SABC News die behoefte vir goeie regering, institutionele hervorming en ekonomiese hervorming beklemtoon om armoede en werkloosheid te beveg:
# Uitspraak is voorbehou in AfriForum se hofsaak teen die Tshwane Metro se nuwe skoonmaakheffing. Arno Roodt van AfriForum sê die maandelikse heffing van 194-rand raak bykans 260-duisend-inwoners en ondernemings. Hy voer aan dat dit onregverdige dubbele belasting is, veral waar privaat afvaldienste gebruik word. Roodt sê die metro het versuim om belangrike beleidsdokumente in die hof voor te lê, wat deursigtigheid bevraagteken. Hy sê die heffing versluier diepgewortelde wanbestuur in Tshwane:
# Die Nasionale Verbruikerskommissie het aangekondig dat ‘n groot aantal Ford-modelle herroep moet word weens ernstige veiligheids-gevare. Dit sluit in Ranger-, Everest-, Puma- en EcoSport- modelle. Die voertuie se enjins kan afskakel en brandstof-lekkasies of handrem-probleme veroorsaak. Die modelle wat geraak word is tussen 2021 en vanjaar verkoop. Die kommissie se woordvoerder, Pheto Ntaba, vra Ford-eienaars om hulle naaste handelaar te kontak vir ‘n gratis inspeksie en herstelwerk:
# Die Kremlin sê ‘n spitsberaad tussen die presidente van Rusland en Oekraïne, Vladimir Putin en Volodymyr Zelensky, kan slegs as ‘n finale stap plaasvind om ‘n vredesooreenkoms te beklink. Die Kremlin-woordvoerder, Dmitri Peskov, sê dit is onwaarskynlik dat so ‘n vergadering einde Augustus kan plaasvind, soos Oekraïne voorstel. Peskov sê ‘n spitsberaad kan, en behoort, die finale punt in ‘n skikking te wees en moet die kenners se ooreenkomste bevestig. Hy sê dit is onmoontlik om dit andersom te doen.
# En ten slotte sportnuus:
# Krieket: Nieu-Seeland word as gunsteling beskou in vandag se eindstryd teen Suid-Afrika in die driehoekige T20-reeks in Zimbabwe. Die Swartpette is onoorwonne in die reeks nadat hulle die Proteas en die gasheer elk twee keer geklop het. Suid-Afrika het nie ‘n volsterkte span gestuur nie omdat van die voorste spelers rus voor die witbal-toer na Australië, terwyl die span ook nog sy kombinasies moet regkry. Die statistieke is egter ten gunste van die Proteas, wat Nieu-Seeland in 11 van hul 17 vorige T20-ontmoetings geklop het.
# En rugby: Die beroemde krieketveld in Melbourne, die MCG, is vandag die gasheer vir die tweede toets tussen Australië en die Britse en Ierse Leeus, en meer as 90-duisend toeskouers word verwag. Die reuse-stadion behoort die toon aan te gee vir ’n intense kragmeting, met ’n reeksoorwinning op die spel. Die Leeus het die eerste toets gewen en nog ‘n oorwinning sal hulle ‘n eerste reeksoorwinning besorg sedert 2013, wat ook oor die Wallabies was. Australië se afrigter, Joe Schmidt, verwag dat sy spelers sal sterkstaan en ‘n beslissende wedstryd afdwing.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….