Nuus 07:00
BULLETIN 10 Mei 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# BOSA veroordeel die ANC se aanvaarding van Zanu-PF se hulp in die verkiesing
# ‘n VN-agentskap sê 80-duisend mense het Rafah sedert Maandag verlaat
# En rugby: Die voorspeler van Engeland en Saracens, Billy Vunipola ontvang ‘n amptelike waarskuwing
# Build One South Africa waarsku teen die invloed van Zimbabwe se Zanu-PF op Suid-Afrikaanse politiek. Die party verwerp die ANC se aanvaarding van bystand deur Zanu-PF vir die verkiesing, en verwys na die party se geskiedenis van knoeiery met verkiesings en onderdrukking in Zimbabwe. Stevens Mokgalapa van BOSA sê die samewerking toon desperaatheid vir mag teen enige prys. Hy vra deursigtigheid en integriteit in die verkiesingsproses:
# Die DA sê die leier van die Patriotic Alliance Gayton Mackenzie speel vuil politiek te midde van die veelverdiepinggebou-ineenstorting in George. Die party kritiseer Mackenzie vir die verspreiding van wilde en oningeligte gissings terwyl die fokus behoort te wees op die red van mense en steun vir hulle geliefdes. Tertuis Simmers van die DA moedig die PA-leier aan om enige toepaslike inligting aan die polisie te gee vir ondersoek, eerder as om onnodige ontsteltenis te veroorsaak:
# Die Landdroshof in Alice het ‘n waarskuwing uitgereik dat hy die Universiteit van Fort Hare-bedrog- en korrupsiesaak uit die dossier sal verwyder indien die staat se ondersoek nie binne vier maande afgehandel word nie. Die saak behels bewerings van ‘n rampokkery-skema wat die universiteit met ‘n bedrag van 171-miljoen-rand bedrieg het. Sestien mense is aangekla met 14 wat tans op borgtog uit is. Die vermeende meesterbrein , Isaac Plaatjies, en oudpolisiebeampte, Terrence Joubert, bly egter in aanhouding. Die Nasionale Vervolgingsgesag het vertroue uitgespreek dat hy die sperdatum kan haal.
# Die Verenigde Nasies se Hulp- en Werksagentskap vir Palestynse Vlugtelinge in die Nabye-Ooste sê sowat 80-duisend mense het sedert Maandag uit Rafah in Gaza gevlug. Die Israelse weermag het sy bomaanvalle op die stad verskerp. Daar was gister volgens berigte minstens 20 lugaanvalle en 12 aanvalle met tenks. Die VN-agentskap sê mense in Rafah is bevrees en kan nêrens heengaan vir hulp nie.
# Rugby: Die Rugbyvoetbalunie het die sterspeler van Engeland en Saracens, Billy Vunipola, amptelik gewaarsku nadat hy verlede maand in Majorka, Spanje, in hegtenis geneem is. Die 31-jarige speler het in die openbaar verskoning gevra ná sy boete omdat hy in April nie ‘n kroeg in die eiland se hoofstad, Palma, wou verlaat nie. Die waarskuwing sal vyf jaar lank op Vunipola se tugrekord bly. Die unie sê hy het Engeland se nommer agt duidelik laat verstaan dat sulke gedrag deur ʼn senior en gerespekteerde speler die spel in oneer bring.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-50-sent teen die dollar, 19-rand-93-sent teen die euro en 23-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-839-dollar-93-sent. Die prys van goud is twee-duisend-349-dollar-32-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 84-dollar-19-sent per vat.
# En ten slotte: Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ʼn geel vlaktwee-waarskuwing uitgereik teen sterk wind wat van vandag tot Saterdag in dele van Kaapstad sal waai. Die waarskuwing geld vir die gebied tussen Saldanha en Kaap Agulhas. Kaapstad Ramprisikobestuur se woordvoerder, Sonica Lategan, sê alle spanne is op bystand om probleme te hanteer:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….