Nuus 07:00
BULLETIN 9 Mei 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Ahmed Kathrada-stigting meen die Verkiesingshof het fouteer in sy interpretasie oor Zuma
# Minister Nxesi sal vandag die terrein besoek waar die gebou in George ineengestort het
# En minister Pandor kritiseer die onderdrukking van die media in Gaza
# Die Ahmed Kathrada-stigting glo die Verkiesingshof se interpretasie van die Grondwet dat oudpresident Jacob Zuma aan die verkiesing mag deelneem, is verkeerd. Die stigting is as vriend van die hof toegelaat in die Verkiesingskommissie se appèl in die Konstitusionele Hof teen die Verkiesinghof se beslissing. In ‘n geskrewe voorlegging in die hoogste hof, sê die stigting Artikel 47 van die Grondwet wat ʼn veroordeelde persoon verbied om in verkiesings te staan, moet ook op Zuma van toepassing wees.
# Die DA beskuldig die minister van Polisie Bheki Cele van die skep van ‘n kultuur van straffeloosheid binne die Suid-Afrikaanse Polisiediens. Dit volg op die verhoor van agt SAPD-lede van adjunkpresident Paul Mashatile se BBP-beskermingseenheid, wat afgeneem is tydens die aanranding van motoriste. Die party blameer Cele se onbevoegdheid en ego vir die gebrek aan gevolgebestuur binne die SAPD. Andrew Whitfield van die DA het onderneem om ‘n aansoek kragtens die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting in te dien vir deursigtigheid oor onopgeloste misdade:
# Die minister van Indiensneming en Arbeid, Thulas Nxesi, besoek vandag die perseel in George waar ʼn gebou wat in aanbou was, Maandagmiddag ineengestort het. Agt werkers is dood terwyl 38 nog onder die puin vasgekeer is en hul toestand is onbekend. Reddingswerkers en beroepsgesondheid- en veiligheidsinspekteurs van die departement wat kort ná die voorval op die toneel was, sal die minister oor die situasie inlig. Nxesi sê hierdie ongeluk herinner mense aan die belangrikheid om veiligheid in die werksplek voorop te stel.
# Adjunkpresident Paul Mashatile het ‘n besoek aan Rand Water se Zuikerbosch-aanleg in Vereeniging, Gauteng, afgesluit. President Cyril Ramaphosa het vroeër vanjaar ‘n water-taakspan onder leiding van Mashatile op die been gebring om wateruitdagings aan te spreek. Mashatile het Rand Water geprys vir sy pogings om meer as elf-miljoen mense op ‘n deurlopende basis te dien. Die besoek het ook ‘n toer ingesluit van die watersuiwerings-aanleg by Zuikerbosch-stasie, wat gebou is om volhoubare watervoorsiening te verseker en aan bestaande en toekomstige waterbehoeftes te voldoen.
# Die minister van Buitelandse Betrekkinge en Samewerking, Naledi Pandor, sê joernaliste word in Gaza en die Wesoewer geteiken en sê dis deel van ʼn patroon om die vrye pers stil te maak. Sy het gister die tweede jaarlikse Shireen Abu Akleh-gedenklesing by die Universiteit van Johannesburg gelewer. Abu Akleh, ʼn bekende Palestynse joernalis, is deur die Israelse weermag doodgemaak. Israel het Sondag Al Jazeera se plaaslike kantoor gesluit en die Katar-gebaseerde uitsaaier beskuldig dat hy ʼn bedreiging vir nasionale sekerheid is. Pandor sê Israel moet aanspreeklik gehou word:
# Tennis: Die tien-malige kampioen Rafael Nadal van Spanje pak die Belgiese kwalifiseerder Zizou Bergs vandag in sy eerste wedstryd by die Italiaanse Ope. Die 37-jarige Nadal is ongekeur vir die kampioenskap wat hy tradisioneel gebruik as finale voorbereiding vir die Franse Ope, wat hy al ‘n rekord 14-keer gewen het. Die voormalige wêreld nommer een-speler is nou in die 305de op die wêreldranglys, weens ‘n string beserings. Hy het egter beïndruk in die kleibaantoernooie voor Rome. Die 24-jarige Bergs is tans 102de op die ranglys.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-57-sent teen die dollar, 19-rand-97-sent teen die euro en 23-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-531-dollar-17-sent. Die prys van goud is twee-duisend-309-dollar-73-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-74-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….