Nuus 07:00
BULLETIN 8 Mei 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Nxesi beloof ‘n deeglike ondersoek na die ineenstorting van die gebou in George
# Die gesinne van die Gaza-gyselaars wil hê Israel moet ‘n ooreenkoms aangaan
# En FlySafair vier 10 jaar met ‘n R10-vliegkaartjie
# Die minister van Indiensneming en Arbeid, Thulas Nxesi, sê sy departement sal die ineenstorting van die vyfverdieping-gebou in George in die Wes-Kaap deeglik ondersoek. Sewe werkers is tot op hede dood verklaar terwyl 41 steeds vermis word. Die voorval blyk een van die grootste ingenieursrampe in Suid-Afrika se geskiedenis te wees. Nxesi het aan Newzroom Afrika gesê die departement sal met sy ondersoek begin sodra die reddingsoperasie afgehandel is:
# President Cyril Ramaphosa sê hoewel beleggers oor die algemeen ‘n positiewe houding teenoor Suid-Afrika het, moet meer gedoen word om seker te maak regstreekse buitelandse belegging word uitgebrei. Hy het in sy weeklikse nuusbrief die groei in Suid-Afrika se motorbedryf beklemtoon. Regstreekse buitelandse belegging in die land het verlede jaar 96,5-miljard-rand beloop. Ramaphosa sê die regering sal voortgaan om te bou op die vordering wat gemaak is om ʼn sake- en beleggingsklimaat te skep wat ekonomiese groei bevorder en werk skep.
# Die Stad Tshwane sê sy doel is om teen 2026 sowat een-duisend megawatt energie uit ʼn mengsel onafhanklike bronne op te wek. Die metro maak gereed om volgende maand die Tshwane-energieberaad aan te bied. Burgemeester Cilliers Brink sê ʼn betroubare energie-voorraad is ʼn noodsaaklike voorvereiste vir volgehoue ekonomiese groei en ontwikkeling:
# Gesinne van gyselaars wat in Gaza aangehou word, het Amerika en ander lande versoek om druk op Israel te plaas vir ‘n ooreenkoms met Hamas. Ná geringe tekens van vordering met samesprekings vir ‘n wapenstilstand in die sewe maande lange oorlog, sê die forum vir gyselaars en vermiste gesinne nou hulle het ‘n aantal lande gevra om op ‘n ooreenkoms aan te dring. Tydens die aanval op 7 Oktober het Palestynse militantes sowat 250 gyselaars geneem. Israel raam daar is nog 128 in Gaza, insluitend die 35 wat volgens die weermag dood is.
# Fietsry: Die tweemalige verdedigende kampioen, Jonas Vingegaard, hoop om betyds fiks te wees vir die Tour de France. Die Deen is ernstig beseer toe hy verlede maand geval het in die Baskiese Toer in Spanje. Hy sê hy kon uiteindelik weer buite fietsry. Die moordende tydren begin op 29 Junie in Florence, Italië, en eindig op 21 Julie in Nice aan die Franse Riviera – die eerste keer dat dit nie in die Franse hoofstad, Parys, klaarmaak nie weens die Olimpiese Spele.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-54-sent teen die dollar, 19-rand-92-sent teen die euro en 23-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-789-dollar-33-sent. Die prys van goud is twee-duisend-308-dollar-72-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-75-sent per vat.
# En ten slotte: FlySafair herdenk vandag sy tiende bestaansjaar met ‘n spesiale verkoping van 50-duisend sitplekke vir net tien-rand op uitgesoekte binnelandse vlugte. Die verkoping is slegs op sy webtuiste beskikbaar en sal na verwagting swaar verkeer dra, na verwagting meer as een-miljoen besoekers. Die redery het ‘n aanlyn wagkamer ingestel om die toestroming te hanteer. Kliënte sal slegs tien minute beskikbaar hê nadat hulle op die webtuiste land, om hulle kaartjies te bespreek. Die FlySafair-toepassing is steeds beskikbaar vir gewone besprekings.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….