Nuus 07:00
BULLETIN 7 Mei 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# AfriForum sê die Nasionale Gesondheidsversekering is nie ‘n oplossing vir die gesondheidsorgsektor nie
# Die SAKP vra vir ‘n onafhanklike ondersoek na die gebou-ineenstorting in George
# En Rishi Sunak sê die volgende algemene verkiesingsuitslag is nie ‘n uitgemaakte saak nie
# AfriForum sê Suid-Afrikaners moet gereed wees vir ‘n gesondheidskrisis wat deur die Nasionale Gesondheidsversekering veroorsaak gaan word. Die burgerregte-organisasie het ʼn NGV-konferensie in Pretoria aangebied met talle gaste soos die ekonoom Dawie Roodt en Unity Health se uitvoerende hoof, Vernon Chorn. Roodt glo die algehele privatisering van Suid-Afrika se gesondheidsbedryf is die enigste werkbare alternatief vir die NGV. Louis Boshoff van AfriForum sê hulle pleit weer by president Cyril Ramaphosa om nie die NGV-wetsontwerp as wet te bekragtig nie:
# Die Appèlhof het ‘n herverhoor van die ANC-lid, Bongani Bongo, weens korrupsie beveel. Die hof het bevind regter-president John Hlophe, wat voor ‘n ampsaanklag staan, het verskeie regsfoute gemaak toe hy Bongo vrygespreek het. Die waarnemende regter, John Smith, het die eenparige uitspraak geskryf en sê die bewyse teen Bongo deur die NVG is ‘n prima facie bewys van korrupsie. Die herverhoor volg nadat Hlophe vir Bongo vrygespreek het sonder om te vereis hy moet reageer op bewerings dat hy Ntuthuzelo Vanara probeer omkoop het om die Parlement se Eskom-ondersoek te stuit, terwyl hy as die ondersoek se getuienisleier gedien het.
# Die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty doen ʼn beroep op die Departement van Indiensneming en Arbeid om ʼn onafhanklike ondersoek in te stel nadat ʼn gebou in George ineengestort het. ʼn Vyfverdiepinggebou wat in aanbou was, het gistermiddag in dié Wes-Kaapse dorp ineengestort terwyl 75 werkers op die perseel was. Vier mense is dood terwyl reddingswerkers na nog 53 konstruksiewerkers soek wat in die puin vasgekeer is. Die SAKP sê die ondersoek moet vasstel of alle toepaslike bouregulasies nagekom is.
# Gauteng se LUR vir Onderwys, Matome Chiloane, het sy skok uitgespreek nadat vier leerders van die Eqinisweni Secondary School in Ivory Park in afsonderlike voorvalle na bewering selfdood gepleeg het. Die voorvalle het tussen die 26ste April en die vyfde van hierdie maand plaasgevind. Die departement se woordvoerder, Steve Mabona, sê in een van die voorvalle het ʼn graad tien-leerder tuis gif gedrink. Hy sê sy is na die plaaslike kliniek gehaas, waar sy dood verklaar is:
# Die Britse premier Rishi Sunak sê die volgende algemene verkiesingsuitslag is nie ‘n uitgemaakte saak soos voorspel word in meningspeilings nie. Die Konserwatiewe Party het een van sy grootste nederlae in 40 jaar gely in die afgelope plaaslike verkiesing. Die Arbeidersparty het regoor Engeland en Wallis belangrike vooruitgang gemaak om ‘n oorwinning in ‘n algemene verkiesing te verseker. Sunak het aan Sky News gesê die uitslae is teleurstellend:
# Olimpiese Spele: Die organiseerders van vanjaar se Spele in Parys verwag ‘n ongekende kubersekerheidsuitdaging. Hulle werk nou saam met die land se inligtingsekerheidsagentskap en kubersekerheidsmaatskappye om die uitwerking te beperk. Die direkteur-generaal van die agentskap, Vincent Strubel, sê hulle besef hulle kan nie al die aanvalle keer nie, maar vertrou hulle is gereed vir die aanslag. Na wat berig word, is sogenaamde etiese kuberkrakers in diens geneem vir strestoetse op hulle stelsels om seker te maak hulle is veilig.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-50-sent teen die dollar, 19-rand-92-sent teen die euro en 23-rand-23-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-797-dollar-78-sent. Die prys van goud is twee-duisend-322-dollar-73-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-39-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….