Nuus 07:00
BULLETIN 17 September 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF kritiseer die oordrag van 300-miljoen-rand van die Nasionale Loterykommissie na die Tesourie
# Die verdagte wat gearresteer is vir die sluipmoordpoging op Trump, word aangekla
# En krieket: Die Protea-vroue klop Pakistan in hul eerste T20
# Die EFF sê hy is ontsteld oor berigte dat die Nasionale Tesourie ‘n onwettige oordrag van fondse van die Nasionale Loterykommissie ontvang het. Tesourie het volgens berigte die kommissie verlede jaar opdrag gegee om 1,2-miljard-rand van sy surplus-fondse aan die Nasionale Inkomstefonds oor te dra. Dit ten spyte daarvan dat ses-duisend-500 versoeke vir befondsing deur liefdadigheidsorganisasies en individue, in die 2022/2023-boekjaar verwerp is. Die EFF sê die Tesourie is op die verkeerde pad onder die minister van Finansies, Enoch Godongwana, en word volgens hulle gekenmerk deur besnoeiings, verontagsaming van die wet en strafloosheid.
# Die Padongelukkefonds het ‘n tekort van 1,6-miljard-rand vir die 2023/24-boekjaar aangemeld, na drie jaar van geen verhoging in brandstofheffings nie. Die uitvoerende hoof, Collin Letsoalo, sê die fonds het aansienlike uitdagings, maar bly steeds funksioneel. Letsoalo gee die privaat sektor die skuld vir die ineenstorting van die oorgeërfde stelsel. Hy beklemtoon pogings om die organisasie om te draai met ‘n nuwe model:
# Die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika sê hulle het aansienlike vordering gemaak om hulle dienste te laat herleef en verwerp misleidende bewerings deur die voormalige uitvoerende hoof, Zolani Matthews. Volgens die agentskap het die huidige leierskap meer as 80-persent van die spoornetwerk laat herleef, 226 nuwe treine bekendgestel en sy bedryfsprestasie met 87-persent verbeter. PRASA-woordvoerder, Andiswa Makanda, sê die agentskap het bestuur verbeter, ʼn bedryfspermit van 29-maande bekom en passasiersdienste verbeter vir meer doeltreffende en betroubare spoorvervoer.
# AfriForum sal vandag 17-duisend handtekeninge uit sy Red Pretoria-versoekskrif aan Tshwane se koalisievennote oorhandig. Dit volg ná ActionSA se aankondiging dat hy die DA-koalisie gaan verlaat. ActionSA sê hy oorweeg ‘n moontlike koalisie met die EFF en ANC. Ernst van Zyl van AfriForum versoek ActionSA om dit te heroorweeg, en beklemtoon hoe belangrik die handhawing van ‘n bestendige koalisie vir die stad se toekoms is:
# Die verdagte in die vermeende sluipmoordpoging op oudpresident Donald Trump van Amerika is aangekla van die besit van ʼn vuurwapen deur ʼn veroordeelde misdadiger, en besit van ʼn vuurwapen waarvan met die reeksnommer gepeuter is. Die 58-jarige Ryan Wesley Routh is Sondag in Florida gearresteer nadat hy probeer het om Trump, wat besig was om gholf te speel, te skiet. Routh het gister in die hof verskyn. Hy het Trump op sosiale media gekritiseer, en hy ondersteun Oekraïne. Hy kan tot 20 jaar tronk toe gaan as hy op albei aanklagte skuldig bevind word.
# Krieket: Die Protea-vroue het Pakistan met tien lopies verslaan en die eerste van drie T20-wedstryde in Multan gewen. Suid-Afrika het eerste gekolf en 132 vir vier in hul 20 boulbeurte op die telbord geplaas. Tazmin Brits spog met ʼn onoorwonne 56 van 63 balle, en haar 12de T20-vyftigtal. Marizanne Kapp en Tumi Sekhukhune het daarna elkeen twee paaltjies platgetrek en Pakistan is tot 122 vir vyf beperk. Brits sê dit was ʼn moeilike kolfblad:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-62-sent teen die dollar, 19-rand-61-sent teen die euro en 23-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-939-dollar-59-sent. Die prys van goud is twee-duisend-585-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-96-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….