Nuus 07:00
BULLETIN 6 Mei 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA is vasbeslote om te verhoed dat ‘n ANC-EFF-koalisie wen
# Hamas is steeds gretig om ‘n algehele skietstilstand te bewerkstellig
# En die Springbokke oorheers die Suid-Afrikaanse Sporttoekennings
# Die DA-leier John Steenhuisen sê provinsiale en nasionale koalisieregerings tussen die ANC, die EFF en hul mede- radikale populiste sal Suid-Afrika laat vlam vat. Hy het die party se jongste televisie-advertensie voor die algemene verkiesing van 29 Mei onthul. Steenhuisen sê die advertensie is ’n simboliese voorstelling van die toekoms wat op Suid-Afrika wag as die ANC vir nog ’n termyn aan bewind bly:
# Die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke vra ‘n regverdige verkiesing wat vry is van geweld en intimidasie. Die raad het gister ʼn Nasionale Dag van Gebed in Soweto gehou in aanloop tot die algemene verkiesing later die maand. Sewentig partye en elf onafhanklike kandidate sal aan die verkiesing deelneem met 14-duisend-991 kandidate wat 887 setels in die nasionale en provinsiale wetgewers betwis. Die raad se president, aartsbiskop Thabo Makgoba, sê die nuwe leierskap moet gekenmerk word deur mense wat lief is vir die land.
# Die Stad Johannesburg en sy entiteite is aanspreeklik vir die dood van 77 mense in die brand verlede Augustus in die Usindiso-gebou in Marshalltown. Dit is een van die aanbevelings van die oudregter in die Konstitusionele Hof, Sisi Khampepe, se verslag oor die voorval. Sy het bevind die lewensomstandighede in die gebou het talle verordeninge oortree. Khampepe sê die stad moet ʼn onafhanklike proses begin om vas te stel wie individuele verantwoordelikheid of aanspreeklikheid moet dra:
# Die Kouga-munisipaliteit in die Oos-Kaap het ʼn gesamentlike bedryfskomitee aangestel nadat bek-en-klouseer in die streek uitgebreek het. Die siekte is op ʼn plaas naby Humansdorp opgemerk. Dit word as ʼn gekategoriseerde, staatsbeheerde siekte beskou omdat dit ekonomiese verliese kan veroorsaak en boerderybedrywighede ontwrig. Die munisipaliteit se woordvoerder, Christa Venter, sê die komitee stel maatreëls in om die siekte se verspreiding te voorkom. Dit sluit in dat plase goeie bio-sekerheid toepas.
# Die militante groep, Hamas, beskuldig Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, dat hy bemiddelaars se pogings vir ʼn moontlike skietstilstand saboteer. Netanyahu het die huidige voorgestelde skietstilstand verwerp en sê dit hou Hamas in beheer van Gaza, wat ʼn bedreiging vir sy land inhou. Die militante groep sê hy is steeds gretig om ʼn algehele, bindende ooreenkoms te bereik wat die aggressie sal beëindig, onttrekking waarborg en ʼn uitruiling van gevangenes bewerkstellig.
# Springbok-kaptein, Siya Kolisi, het die Sportster van die Jaar-toekenning en die toekenning as gewildste sportster by die Suid-Afrikaanse Sporttoekennings in Noordwes opgeraap. Sy spanmaat Eben Etzebeth is aangewys as Sportman van die Jaar en Manie Libbok as Nuweling van die Jaar. Oud- Bok-afrigter Jacques Nienaber is as Afrigter van die Jaar bekroon en die Bokke is aangewys as Span van die Jaar. Ander wenners sluit in seevaarder Kirsten Neuschäfer wat Sportvrou van die Jaar is en die naelloop- en verspringatleet, Mpumelelo Mhlongo, wat vanjaar die Gestremde Sportman-toekenning ontvang het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-52-sent teen die dollar, 19-rand-95-sent teen die euro en 23-rand-10-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-106-dollar-31-sent. Die prys van goud is twee-duisend-310-dollar-78-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-22-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….