Nuus 07:00
BULLETIN 4 Mei 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Thabo Mbeki steun ‘n ANC-tugverhoor vir Jacob Zuma
# Geen stawende bewyse is gevind in bewerings teen studente finanisiële skema nie
# En, tennis: Felix Auger-Alliassime dring deur na die eindstryd van die Madrid-ope
# Oud-president Thabo Mbeki het sy steun toegesê aan die ANC se besluit om oudpresident Jacob Zuma aan ‘n dissiplinêre verhoor te onderwerp. Die ANC het optrede vertraag nadat Zuma sy verbintenis met die uMkhonto weSizwe Party verklaar het. Tydens ‘n veldtog in Soshanguve, Pretoria, het Mbeki die belangrikheid beklemtoon dat die ANC sy eie reëls nakom. Die komende verhoor, wat vir Dinsdag vasgestel is, kan lei tot Zuma se skorsing uit die ANC:
# ‘n Onafhanklike verslag het geen bewyse gevind in Outa se bewerings teen die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente nie. Volgens die verslag was daar kommer oor ‘n gesprek wat opgeneem is tussen die voormalige skema se raadsvoorsitter en individue wat met Coinvest Africa verbind word. Hy het maatreëls aanbeveel om potensiële regseise te verminder, insluitend om Khosa te berispe vir ongemagtigde besprekings. Die woordvoerder, Ishmael Mnisi, sê die verslag beveel ook aan om die toepassing van die Werksmans-verslag te bespoedig en besluite oor kontrakbeëindiging te neem, sonder om studente-begunstigdes te benadeel:
# Die Gespesialiseerde Handelsmisdaadhof in Pretoria het die saak teen die Titan E Services-direkteur, Jaqueline Legoabe, tot 2 Augustus 2024 uitgestel. Legoabe word daarvan beskuldig dat sy tussen 2015 en 2020 versuim het om belasting van meer as 17-miljoen-rand aan die Inkomstediens te betaal. Die Ondersoekdirektoraat-woordvoerder, Henry Mamothame, sê Legoabe staan tereg op 30 aanklagte van bedrog vir vermeende belastingwanvoorstelling, saam met alternatiewe aanklagte ingevolge die Wet op Belastingadministrasie:
# Drie mense is dood nadat ‘n ligte vliegtuig laat gistermiddag in Pionierspark in Windhoek neergestort het. Volgens die Namibiese Polisiehoof Elifas Kuwinga het die oorledenes onherkenbaar verbrand. Kuwinga sê die vliegtuig, ‘n Westair AF 406, het by die Eros-lughawe opgestyg vir ‘n onderhoud-toetsvlug met twee vlieëniers en een werktuigkundige aan boord. Die vliegtuig het neergestort op ‘n woonperseel in Rieckmannstraat in Pionierspark.
# En laastens, tennis: Felix Auger-Alliassime is deur na die eindstryd van die Madrid-ope nadat Jiri Lehecka van die Tjeggiese Republiek na net ses spelle in die eerste stel weens ‘n besering moes onttrek. Die Kanadees kom nou in die eindstryd te staan teen die sewende gekeurde Andrey Rublev van Rusland. Hy het die twaalfde gekeurde Amerikaner Taylor Fritz in die ander halfeindstryd 6-4, 6-3 geklop.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….