Nuus 07:00
BULLETIN 2 Mei 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Julius Malema sê werkers moet ‘n behoorlike lewensloon verdien
# Numsa veroordeel Netanyahu en Biden vir die volksmoordveldtog in Palestina
# En motorsport: Red Bull se legendariese F1-ontwerper se bedanking is bevestig
# Die EFF-leier Julius Malema het beloof om die minimum loon aansienlik te verhoog as sy party op die 29ste van die maand aan bewind kom. Hy het gister by ‘n Werkersdag-saamtrek in Hammanskraal, noord van Pretoria gepraat. Die jongste opname deur die marknavorsingsfirma Ipsos, voorspel die party sal 11,5-persent van die stemme op nasionale vlak kry. Malema sê dis belangrik dat werkers beskerm word en ʼn behoorlike loon ontvang:
# Die Basic Income Grant SA-party sê arbeidswette moenie die skuld kry vir die land se ekonomiese agteruitgang nie. Big SA wat in die komende verkiesing in Gauteng meeding, sê hy beywer hom vir ʼn universele basiese inkomste-toelaag om ʼn maaltyd vir die armstes te verseker en die ekonomie te stimuleer. Die partyleier Hendrick Kekana, waarsku stygende werkloosheid is ʼn tydbom en beroof individue van hulle waardigheid en reg om vir hul gesinne te voorsien. Kekana vra kiesers om hulle pogings te steun om ʼn meer gelyke ekonomiese stelsel te vestig:
# Die Raadgewende Kantoor vir Informele Werkers se Stakingsbarometer vir 2023 dui aan daar was 83 hoofsaaklik loonverwante stakings in die land verlede jaar. Die stakings wat aangeteken is, sluit nie veelvuldige betogings in wat by universiteite, hospitale en die Staatsinligtingstegnologie-agentskap plaasgevind het nie. Volgens die barometer is die ander hoofrede vir stakings die soeke na permanente werk. Die barometer het ook die langste staking aangeteken. Dit was 104 dae, van Julie tot November, tussen die Suid-Afrikaanse Munisipale Werkersunie en die Stad Tshwane.
# Die Valke in Gauteng sê die ondersoek na die Tembisa-hospitaal is in ʼn gevorderde stadium. Hulle het in Desember 2022 ʼn soek-en-beslagleggingsoperasie by die hospitaal uitgevoer nadat inligting ontvang is oor onregmatige kontrakte wat die instelling se voorsieningsketting-bestuur aan 217 diensverskaffers toegeken het. Die hospitaal se geskorste uitvoerende hoof, Ashley Mthunzi, is verlede week dood. Hy is geskors weens bewerings dat hy toestemming gegee het vir onregmatige tenders. Die Valke sê Mthunzi se dood belemmer nie die ondersoek nie.
# Die metaalwerkersvakbond, Numsa veroordeel Israel se eerste minister Benjamin Netanyahu en Amerika se president Joe Biden vir hul optrede in Palestina en beskuldig hulle van volksmoord. Die vakbond het sy solidariteit met die Palestyne uitgespreek ná ʼn versoek deur die Amerikaanse aktivis, Angela Davis. Hulle het ooreengekom om saam met Davis te werk aan ʼn veldtog om Palestina te verdedig en ondersteuning op plaaslike, streeks- en internasionale vlak te bevorder. Numsa se woordvoerder, Phakamile Hlubi-Majol, vra dat boikotte en sanksies teen Israel ingestel en beleggings onttrek word:
# Motorsport: Red Bull het bevestig sy hoofontwerper, die 65-jarige Adrian Newey, verlaat vroeg volgende jaar die Formule Een-span. Hy het in 2006 by die span aangesluit en die ontwerp van motors gelei wat die span in 20 seisoene al 13 hul wêreldtitels besorg het. Red Bull se spanleier en uitvoerende hoof, Christian Horner, het Newey se invloed op die span geloof en hom as ʼn ware legende beskryf. Volgens berigte het Ferrari en Aston Martin Newey genader.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-55-sent teen die dollar, 19-rand-89-sent teen die euro en 23-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-309-dollar-89-sent. Die prys van goud is twee-duisend-322-dollar-89-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-73-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….