Nuus 07:00
BULLETIN 25 Julie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa vergader vandag met die Noord-Kaapse provinsiale uitvoerende gesag
# Slegs een van die drie Gupta-eiendomme in Saxonwold is op ‘n veiling verkoop
# En die VN waarsku die mense van Gaza wat honger ly lyk soos lewende lyke
# President Cyril Ramaphosa lei vandag ‘n vergadering tussen die nasionale en provinsiale uitvoerende gesag in die Noord-Kaap. Dis in ooreenstemming met die president se voorneme om nou saam met provinsiale en plaaslike regerings te werk om inwoners se lewens te verbeter en ekonomiese geleenthede uit te brei. Die presidensie sê die provinsiale gesag onder leiding van premier Zamani Saul, sal sy vyfjaarplan aan Ramaphosa voorlê volgens die voorkeure van die sewende administrasie en Suid-Afrika se aanbieding van die G20-beraad.
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê klein en medium ondernemings dra wêreldwyd aansienlik by tot ekonomiese ontwikkeling en werkskepping. Hy het gister in Boksburg, Gauteng, die slotrede gelewer by die globale ministeriële vergadering oor klein en medium ondernemings. Die driedaagse geleentheid se tema was “Navigating New Business Frontiers.” Mashatile sê regerings kan die belangrikheid van klein en medium ondernemings om werkloosheid te verminder, toeskryf aan hul vermoë om vinnig te reageer op veranderinge in markte:
# Die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, sê Suid-Afrika moet die wêreldleier wees in die stryd teen tering met vennootskappe, innovering, en gereedheid met entstowwe. Die minister het by die tering-entstof gereedheidswerkswinkel in Johannesburg, die behoefte benadruk vir dringende optrede om tieners en volwassenes, die mees kwesbare groepe, te beskerm. Hy het bevestig dat nuwe entstowwe nou getoets word, en Suid-Afrika maak hom gereed om ‘n nuwe generasie tering-entstowwe te lewer:
# Slegs een van die Guptas se drie Saxonwold-eiendomme is gister op ʼn veiling verkoop. Die eiendomme wat eens die middelpunt van die staatskaping-saga was, staan sedert 2018 leeg toe die Gupta-broers uit Suid-Afrika gevlug het te midde van toenemende bewerings van korrupsie. Die eiendom het 3,3-miljoen-rand gehaal wat 40-persent minder is as sy gelyste waarde. Graham van Niekerk van Park Village Auctions het aan die SABC gesê hulle is nie verbaas dat die twee luukser eiendomme, waarvan een 17 en-suite slaapkamers het, nie verkoop is nie:
# Die Verenigde Nasies se agentskap vir Palestynse vlugtelinge sê volgens hom is mense in Gaza nie lewend of dood nie, maar lewende lyke. Die agentskap sê minstens 113 mense in Gaza is aan honger dood waarvan 45 die laaste vier dae was. Agentskaphoof Philippe Lazzarini sê hulle het kos en mediese voorraad wat op ses-duisend vragmotors kan pas in Jordanië en Egipte. Hy maan Israel om humanitêre vennote toe te laat om onbeperkte en ononderbroke humanitêre hulp na Gaza te bring.
# Motorsport: Brasilië gaan Argentinië volgende jaar vervang op die MotoGP-wedrenrooster. Die organiseerders het aangekondig die wedren op die Ayrton Senna-baan in Goiania sal die tweede van 2026 wees. Brasilië keer daarmee terug na MotoGP nadat hy tussen 1987 en 1989 wedrenne daar aangebied het. Argentinië sal weer ‘n wedren aanbied sodra ‘n nuwe baan naby Buenos Aires gebou is. Die seisoen eindig op 22 November in die Spaanse stad Valencia.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-61-sent teen die dollar, 20-rand-68-sent teen die euro en 23-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 117-duisend-244-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-370-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-71-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….