Nuus 07:00
BULLETIN 26 April 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Konstitusionele Hof verleng die sperdatum vir die respondente in die Verkiesingskommissie se appèlsaak
# Minister Godongwana beklemtoon die belangrikheid van openbare vertroue in die finansiële stelsel
# En ‘n akoestiese kitaar gespeel deur Beatles-sterre Lennon en Harrison word opgeveil
# Die Konstitusionele Hof het respondente se sperdatum om beëdigde verklarings in te dien in die Verkiesingskommissie se appèlsaak, uitgestel op oudpresident Jacob Zuma en die MK-party se versoek. Die OVK appelleer teen die Verkiesingshof se beslissing dat Zuma as kandidaat mag staan ten spyte van ‘n vonnis van 15-maande-tronkstraf. Die OVK het hom weens sy misdaadrekord verbied om deel te neem. Die Konstitusionele hof het tot komende Dinsdag uitstel gegee.
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sê omvattende strukturele hervorming, en groter aanspreeklikheid, deursigtigheid en openbare insluiting is noodsaaklik om die publiek se vertroue in finansiële regulasies te herstel. Hy het gister by die Suid-Afrikaanse Reserwebank se bekendstelling van die Korporasie vir Depositoversekering gepraat. Dit is Suid-Afrika se deposito-versekeringskema wat volgens wet geskep is om kwalifiserende persone se deposito’s te beskerm indien hulle bank misluk. Godongwana sê vertroue is die grondslag van enige finansiële stelsel se doeltreffendheid en bestaan:
# Giwusa stel vandag die Marshalltown Justice Campaign bekend. Die unie se president, Mametlwe Sebei, sê die veldtog het ten doel om onmenslike toestande te beëindig, xenofobie te verwerp en gedwonge uitsettings teen te staan. Die polisie in Gauteng het ‘n man in hegtenis geneem nadat hy beken het hy het die brand begin wat 76 lewens geëis het by die Usindiso-gebou in Augustus. Sebei het gevra vir meer behuisingsgeleenthede vir die armes en ander inwoners:
# Die Europese Parlement het ‘n resolusie aanvaar wat Iran se aanval op Israel vroeër vandeesmaand veroordeel en vra vir verdere sanksies teen Iran. Dit het ook die aanval op die Iranse konsulaat in Damaskus, wat aan Israel toegeskryf word, veroordeel. Die resolusie eis dat die Islamitiese Revolusionêre Wag op die Europese Unie se lys van erkende terreurorganisasies ingesluit word. Die Parlement is bekommerd oor die ontwrigtende rol van die Iranse regime en sy netwerk van meelopers in die Midde-Ooste.
# Gholf: Rosie Davies van Engeland en Elena Moosmann van Switserland is op ses onder baansyfer 66 die gesamentlike voorlopers ná die eerste ronde van die Suid-Afrikaanse Vroue-Ope in Kaapstad. Julie Boysen Hillestad van Noorweë is derde op vyf onder. Die Suid-Afrikaner Lee-Anne Pace is op vier onder in haar poging om ʼn rekord sesde titel te buit. Davies sê sy is tevrede met haar spel van die afgelope tyd:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-1-sent teen die dollar, 20-rand-39-sent teen die euro en 23-rand-78-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-462-dollar-96-sent. Die prys van goud is twee-duisend-335-dollar-49-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 87-dollar-96-sent per vat.
# En ten slotte: ’n Twaalf-snaarkitaar van die Beatles-sterre John Lennon en George Harrison sal volgende maand opgeveil word as deel van Julien’s Auctions se musiek-ikonegeleentheid. Die Framus Hootenanny– akoestiese kitaar is onlangs by ‘n huis buite Londen ontdek, nadat dit vir meer as 50 jaar vermis was. Die afslaersmaatskappy in Kalifornië sê die kitaar is in 1965 deur die groep gebruik, in opnames en uitvoerings van liedjies, insluitend Help, You’ve Got To Hide Your Love Away en It’s Only Love.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….